________

 

Die vlinder is die simbool van die opstanding. Net soos ‘n verterende ruspe eers deur ‘n metamorfose gedurende die papie stadium moet gaan voordat ‘n vlinder te voorskyn kan kom, so sal die materiële mens ook eers moet sterf voordat hy met ‘n volmaakte liggaam in God se ewige heerlikheid kan opstaan.

“want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word”
1 Korintiërs 15:52

________

En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.
So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.
Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.
Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.

________

Nuttige skakels

 
 
     
 
     

Plaas asb jou naam op ons verspreidingslys indien jy elke weeksdag
Gedagte vir die dag en Boodskap vir die dag per epos wil ontvang.
Dit is gratis

Tema: In geloof deur die woestyn na die Beloofde Land
_____________________________________________________________

 

7 Februarie 2012
Gedagte vir die dag

As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks,
bedrieg hy homself.
- Galasiërs 6:3 -

Kry onder Die lewe antwoorde op jou kwelvrae en troos in beproewing.
Onder Boodskappe vind jy die volledige versameling van daaglikse boodskappe.
Gedagtes bevat alle vorige Gedagtes vir die dag.
Luister na direkte uitsendings of geredigeerde uitsendings van preke onder Uitsendings

_____________________________________________________________

Dié Weg en Cum gee hierdie maand weer drie boeke gratis weg.
Meer inligting is onder Boeke te kry.
_____________________________________________________________

Boodskap vir die dag

Gevaarlike vangnette van valse Christenskap

"Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde" Galasiërs 5:13.

Jesus Christus se verlossingswerk het vryheid vir sondaars soos ek en jy gebring. Vryspraak van sondeskuld deur die geloof, nie deur die wet te onderhou nie (Gal 3:11).

Om van hierdie vryheid af  te wyk, is soos ‘n vangnet. Mense is te trots om te erken dat hulle nie uit hulleself goed genoeg kan leef nie. Iets van hulle eie kant moet/kan nog by Christus se verlossing bygevoeg word – so redeneer hulle. Die Galasiërs sou in die vangnet gevang word om die ou verbondsteken, die besnydenis, noodsaaklik te maak. So wil valse leraars jou dwing om by Christus se werk nog menslike prestasies te voeg. 

Pasop vir daardie vangnet! Moenie te klein dink van God se verlossing deur Jesus Christus nie. Hy het alles volbring, sodat jy van alle sondeskuld vrygespreek kan word. Moenie te groot dink van jou vermoëns om wettiese reëls na te kom nie. Slegs deur ‘n ware geloof, ‘n aanvaarding van wat Jesus vir jou gedoen het, kan jou saak met God reg wees.

Ons moet egter nie ons vryheid misbruik as verskoning om sonde te doen nie (Gal 5:13)! Dit is net so ‘n gevaarlike vangnet. Mense redeneer dat geloof die reg gee om goddeloos te leef. Valse geloof verlei mense om liefdeloos te leef. Dan sien jy slegs die vrugte van die sondige natuur - onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge (Gal 5:19-21).

Hoe leef ‘n ware gelowige dan? Hoe vermy ek die vangnet om my vryheid in Christus te misbruik? Die ware gelowige laat hom/haar deur die Gees van God beheers. Dan is my Christenskap méér as om te sê ek glo. Dit is meer as ‘n valse trots dat ek uit my eie beter as ander is. Nee, dan word my lewende verhouding met Jesus Christus sigbaar. Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. Die Gees van God beheers my lewe. Dan leef ek met blydskap die liefdesgebod uit. Nie uit eie krag nie, maar as verloste kind van God. Die vrug van die Gees vertoon in my optrede: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22-23).

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Boodskap argief

'n Perspektief op die Lewe

Oplossings vir die kwellings van hierdie wêreld

Die mens van vandag het beslis rede om ongemaklik en selfs vreesbevange te voel. Die wêreld is vasgevang in 'n groeiende maalkolk van morele-, ekonomiese-, geregtelike- en politieke onstabiliteit wat alle dimensies van ons menswees beïnvloed. Daar is diefstal, bedrog, verkragtings, moord, korrupsie in ons onmiddelike omgewing. Op die wêreldskaal is daar oorloë, oorstomings, droogte, hongersnood, resessie en 'n depressie wat ons voor die deur staan. Daar is mense soos Ahmedinejad (president van Iran) wat glo dat hy die weg moet baan vir die koms van Muhammad al-Madhi as die twaalfde Imam - 'n tipe messias aan die einde van die tyd.

Vanuit sowel die Christelike, Joodse en Moslem beskouings leef ons aan die einde van die tyd. Hoe raak dit ons as gewone mense? Lees elders meer hieroor.

Hierdie webwerf poog om vir elke persoon nuwe hoop vir die toekoms te bring. ‘n Groter hoop as wat die wêreld ooit kan verskaf. Ons vertrou dat die inligting wat hier geplaas is en nog geplaas sal word vir jou ‘n beter perspektief op die lewe sal bied en vir jou ook persoonlike vreugde en innerlike vrede sal verskaf.

Blaai gerus deur ons bladsye en kyk wat daar vir jou aangebied word.  Lekker lees!

----------------------------------------------------------------------------------

Kopiereg©

Materiaal op hierdie webwerf mag gebruik word op voorwaarde dat daar 'n duidelike verwysing na die outeur sowel as die webwerf www.dieweg.co.za by sodanige materiaal geplaas word.

Geen materiaal op hierdie webwerf mag direk of indirek vir kommersiële doeleindes gebruik word nie.

 

 

Werfkaart