Die Weg

Hieronder is 'n lys van die daaglikse Gedagtes vir die dag wat reeds geplaas is

Dit verskyn ook op die Tuisbladsy en 'n nuwe gedagte word elke weeksdag bygevoeg.

Plaas asb jou naam op ons verspreidingslys indien jy elke weeksdag Gedagte vir die dag as epos wil ontvang

Indien jy dit dan nie ontvang nie, maak asb seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.

strepie


Die troue liefde van die HERE
is van altyd af en vir ewig oor hulle
wat vir Hom ontsag het,
en sy geregtigheid geld vir die kinders se kinders,
vir hulle wat sy verbond hou,
en vir hulle wat sy opdragte
in gedagte hou, om dit uit te voer.
- Psalm 103:17-18 (2020 vertaling) -

 

________________________


Geseënd is dié wat vervolg word
omdat hulle doen wat reg is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
- Mattheus 5:10 -

 

________________________


Wees waaksaam en bid altyddeur
dat julle die krag kan ontvang
om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur,
behoue deur te kom en om
voor die Seun van die mens te verskyn.
- Lukas 21:36 -
 

________________________


Julle, geliefdes, moet egter voortgaan
om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof.
Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees.
Bly in die liefde van God.
Vestig steeds julle verwagting
op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus
wat die ewige lewe aan julle sal gee.
- Judas 1:20-21 -
 

________________________


God wat alle genade gee en
wat julle geroep het om in Christus Jesus
deel te hê aan sy ewige heerlikheid,
sal julle, nadat julle 'n kort tydjie gely het,
self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.
Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid!
 -1 Petrus 5:10-11 -

 

________________________


Dit is gevalle van skielike onverwagte verskrikking,
- sonder 'n oomblik van voorbereiding -
wat 'n mens se gees op die proef stel;
nie alleen die mens se innerlike krag nie,
maar ook die grootheid en reinheid
van sy hele natuur.
- Richard Trench (1808-1886) -
 

________________________


En wanneer die Opperherder verskyn,
sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.....
....... Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het,
sodat niemand jou kroon kan neem nie.
- 1 Petrus 5:4 en Openbaring 3:11 -
 

________________________


Wat die oog nie gesien
en die oor nie gehoor het nie,
en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie,
dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.”
- 1 Korintiërs 2:9 -
 

________________________


Die belangrikste in die lewe
is dat jy plek maak
vir die belangrikste van die lewe.
 

________________________


Beskou die geduld wat ons Here met ons het
as geleentheid om gered te word.
- 2 Petrus 3:15 -

 

________________________


Ek het so baie om te doen
dat ek die eerste drie ure
in gebed sal deurbring.
- Martin Luther (1483 – 1546) -

 

________________________


Elkeen wat die oorwinning behaal,
sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak,
en hy sal vir altyd daar bly.
Ek sal op hom die Naam van my God skrywe
en die naam van die stad van my God,
die nuwe Jerusalem,
wat van my God af uit die hemel uit afkom.
En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.
- Openbaring 3:12 -
 

________________________


Weer kwellings uit jou hart
en hou lyding [daardeur] weg van jou liggaam....
God het ons tog nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie,
maar van krag en liefde en selfbeheersing
- Prediker 11:10 en 2 Timoteus 1:7 -
 

________________________


Die HERE is die Een wat voor jou uitgaan;
Hy is by jou,
Hy sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie.
Moenie bang wees nie en moet jou nie laat afskrik nie.
- Deuteronomium 31:8 -
 

________________________


Lees die Bybel saam met jou kinders voordat hulle saans bed toe gaan,
en soggens voordat hulle uit die bed opstaan.
Dít is die beste belegging wat jy kan maak.
- Glen A McQuirk -
 

________________________


God is ’n toevlug in die nood,
’n rots wat altyd vas bly staan,
al dreig die vyand met die dood,
al storm sy leërbendes aan.
Laat dan maar buig en beef
Al wat ons hier omgeef;
Laat berge uit hul stee
Wegwankel in die see –
Ons sal nie beef of rugwaarts gaan.
- Psalm 46:1 (Beryming) -
 

________________________


Maar nou, Here,
U is ons Vader.
Ons is die klei
en U is ons pottebakker -
ons almal is die werk van u hande.
- Jesaja 64:8 -
 

________________________


Die verlossende genade van God
het verskyn vir alle mense, en voed ons op,
sodat ons in hierdie bedeling
verstandig en regverdig en godvresend kan leef,
deur goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp,
terwyl ons uitsien na die salige hoop
en glansryke verskyning
van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus -
Hy wat Homself ter wille van ons gegee het,
om ons los te koop van alle wetteloosheid,
en vir Hom 'n eie volk as eiendom te reinig,
wat ywerig is om goed te doen.
- Titus 2: 11-14 -

 

________________________


Waarom kwyn jy weg, my siel,
en is jy so onrustig in my?
Hoop op God,
want ek sal Hom weer prys
vir die verlossing
wat sy teenwoordigheid bring.
- Psalm 42:6 -

 

________________________


Wanneer dinge donker begin lyk,
dan wag ek,
dan kyk ek terug op al die hulp wat God gegee het,
en weet verseker: daar sal weer uitkoms wees.
- Friedrich von Bodelschwingh (1831 – 1910) -
 

________________________


Gelukkig is die mens
wat die God van Jakob as sy hulp het,
wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God -
Hy wat hemel en aarde
gemaak het,
die see, en alles wat daarin is,
Hy wat trou bly tot in ewigheid.
- Psalm 146:5-6 -

 

________________________


U Here, is self die gids en die weg
en die doel waarna ons streef.
- Notker Labeo (950 – 1022) -
 

________________________


Offer dank aan God,
betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.
Roep My aan in 'n tyd van nood;
Ek sal jou red, en jy sal My eer.
- Psalm 50:14-15 -

 

________________________


Ons het egter afstand gedoen
van geheime skandelike dinge,
en tree nie slinks op of verdraai
die Woord van God nie;
maar deur die waarheid aan die lig te bring,
beveel ons onsself voor die aangesig van God aan
by die gewete van elke mens.
- 2 Korintiërs 4:2 -
 

________________________


Laat julle hart nie ontsteld wees nie.
Glo in God, glo ook in My.
In die huis van my Vader is daar baie woonplek.
As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het.
Ek gaan om vir julle plek voor te berei.
En as Ek gegaan en vir julle plek voorberei het,
kom Ek weer en sal julle na My toe neem,
sodat julle ook kan wees waar Ek is.
- Johannes 14:1-3 -

 

________________________


Met groot ontsag getuig almal dan
van die dade van God
omdat hulle insig gekry het in wat Hy doen.
Laat die regverdige hom in die Here verbly
en sy toevlug by Hom soek,
laat al die opregtes Hom prys.
- Psalm 64:10-11 -
 

________________________


Neem my juk op julle en leer van My,
want Ek is sagmoedig en nederig van hart,
en julle sal rus vind vir julle siele.
- Mattheus 11:29 -
 

________________________


Verheug jou daarin dat die wil van God met jou geskied,
ofskoon wat gebeur dalk teen jou wil is.
- Mary Ward (1585 – 1645) -

 

________________________


Is my woord nie só, soos ‘n vuur, spreek die HERE,
en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?
- Jeremia 23:29 (53-vertaling) -

 

________________________


Ek sou die ongelukkigste mens ter wêreld gewees het,
as ek moes dink
dat ek nie onder die genade van God gestaan het nie.
- Jeanne d'Arc (1412 - 1431) -
 

________________________


Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css