Die Weg

Hieronder is 'n lys van die daaglikse Gedagtes vir die dag wat reeds geplaas is

Dit verskyn ook op die Tuisbladsy en 'n nuwe gedagte word elke weeksdag bygevoeg.

Plaas asb jou naam op ons verspreidingslys indien jy elke weeksdag Gedagte vir die dag as epos wil ontvang

Indien jy dit dan nie ontvang nie, maak asb seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.

strepie


Rus is nie elders nie; dit is op jou drumpel.
Dit kom as genadegawe van binne af,
nie van buite nie.
Dit word nie deur stoflike dinge gegee nie;
jy kerf dit elke oomblik in jou lewe in,
met elke verruiming van geloof in Hom wat gesê het:
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is
en Ek sal julle rus gee”.
- John van der Berg (1913 - ?) -
 

________________________


Ons hand word gerig deur dit wat binne in ons gelê is:
geloof en hoop en liefde.
- John van der Berg (1913 - ?) -
 

________________________


Wanneer dit donker word om my
kyk ek terug op die hulp wat ek van God ontvang het,
vertrou ek, en weet gewis:
daar sal weer uitkoms wees vir my.
- Friedrich von Bodelschwingh (1831 – 1910)
 

________________________


Julle geloofsvertroue moet julle nie prysgee nie:
dit hou groot beloning in.
Volharding is wat julle nodig het
om die wil van God te doen
en te ontvang wat Hy beloof het.
- Hebreërs 10:35-36 -
 

________________________


As 'n mens nie glo nie,
is dit onmoontlik om te doen wat God wil.
Wie tot God nader,
moet glo dat Hy bestaan
en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.
- Hebreërs 11: 6 -
 

________________________


Die Here is my lig en my redder,
vir wie sou ek bang wees?
Die Here is my toevlug,
vir wie sou ek vrees?
- Psalm 27:1 NAV -
 

________________________


Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens.
Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Dit alles is die werk van God.
- 2 Korintiërs 5:17-18 NAV -

Lewe as nuwe mense
wat as die beeld van God geskep is:
lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.
 - Efesiërs 4:23 NAV -
 

________________________


Geseënd is die man wat op die HERE vertrou,
en wie se vertroue die HERE is.
Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is
en sy wortels uitskiet by die stroom
en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen;
en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie
en hou nie op om vrugte te dra nie.
- Jeremia 17:7-8 OAV -
 

________________________


Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie,
want Een is julle Leier: die Christus.
Maar die grootste onder julle
moet bereid wees om die ander te dien.
Wie hoogmoedig is, sal verneder word,
en wie nederig is, sal verhoog word.
- Matteus 23:10-12 NAV -
 

________________________


Die HERE is goed,
'n toevlug in die dag van benoudheid,
en Hy ken die wat by Hom skuil.
- Nahum 1: 7 OAV -
 

________________________


Ek onthou die dinge
wat ek wil vergeet,
en vergeet die dinge
wat ek eerder moes onthou.
 - Euripides (480 - 407 v C.)  -
 

________________________


Wees getrou aan die Woord,
en getrou aan jouself,
dan is jy vry.
- Anoniem -
 

________________________


Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie.
Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees
in ooreenstemming met die maat van geloof
wat God aan elkeen toebedeel het.
- Romeine 12:3 -
 

________________________


Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder?
Of jy ook, waarom verag jy jou broeder?
Want ons sal almal
voor die regterstoel van Christus gestel word.
- Romeine 14:10 OAV -
 

________________________


Nogtans sal ek altyd by U bly:
niks sal my van u liefde skei -
U wat my regterhand gevat het,
vir wie ek van harte liefgehad het.
U sal my voortlei deur u raad,
o God, my Hulp, my Toeverlaat,
en ná die dag van aardse stryd,
my opneem in u heerlikheid.
- Psalm 73:10 – (Totius beryming)
 

________________________


Prys God, prys Hom met psalms,
prys ons Koning, prys Hom met psalms!
God is koning oor die hele aarde;
sing vir Hom 'n lied.
God is koning oor die nasies,
God is op sy heilige troon.
- Psalm 47:7-9 -
 

________________________


Leer ons ons dae so gebruik
dat ons wysheid bekom.
 - Psalm 90:12 -
 

________________________


Here, U is my lewe, U sorg vir my.
Wat ek ontvang, kom alles van U af.
'n Pragtige deel is vir my afgemeet,
ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.
Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het;
selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.
Ek het die Here altyd by my:
omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.
Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig.
- Psalm 16:5-9 -
 

________________________


Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is,
hulle wat U My gegee het,
ook by My moet wees,
sodat hulle my heerlikheid kan sien,
die heerlikheid wat U My gegee het
omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het.
 - Johannes 17:24 -
 

________________________


Verder sê hy vir my:
“Moenie die woorde
van hierdie profetiese boek geheim hou nie,
want die eindtyd is naby”
- Openbaring 22:10 -
 

________________________


Dra jy die kruis gewillig,
sal dit jou ook dra,
en jou lei na die begeerlikste bestemming:
na dáár waar geen lyding meer sal wees nie,
al is dit nie op hierdie aarde nie.
(Sien ook Matteus 16:24)
- Thomas Á Kempis (1380 – 1471) -
 

________________________


Die lig het na die wêreld toe gekom,
en tog het die mense eerder die duisternis
as die lig liefgehad,
want hulle dade was sleg.
.........
Maar wie volgens die waarheid handel,
kom na die lig toe,
sodat dit duidelik kan blyk
dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.
- Johannes 3:19-21 -
 

________________________


Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.
- Jesaja 53:5 -
 

________________________


Al maak mense hoeveel planne,
wat die Here besluit,
staan vas.
- Spreuke 19:21 NAV -
 

________________________


Want by U is die fontein van die lewe;
in u lig sien ons die lig.
- Psalm 36:10 OAV -
 

________________________


Maak my hart oop vir u wet, O Here!
En leer my wandel volgens u voorskrifte.
Gee dat ek U wil sal verstaan
en help my dat ek met groot eerbied en toegewydheid
u weldade sal oordink,
sodat ek waardiglik aan U die dank sal bring.
- Thomas Á Kempis (1380 – 1471) -
 

________________________


Moenie bang wees
vir dié wat die liggaam doodmaak,
maar die siel nie kan doodmaak nie.
Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam
as die siel in die hel kan laat vergaan.
 - Matteus 10:28 -
 

________________________


Wees wakker en ywerig in die diens van God,
en dink daaraan waarvoor jy hier is,
en waarom jy die wêreld agterlaat.
Is dit nie om vir God te leef
en 'n geestelike mens te word nie?
Beywer jou dus om geestelik te groei
sodat jy die loon van jou arbeid
weldra kan ontvang.
- Thomas Á Kempis (1380 – 1471)-
 

________________________


Soos Hy wat julle geroep het, heilig is,
moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees.
Daar staan immers geskrywe:
“Wees heilig, want Ek is heilig.”
- 1 Petrus 1:15-16 -
 

________________________


Nou wag die oorwinnaarskroon vir my,
die lewe by God.
Op die dag dat Hy weer kom,
sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee,
en nie net vir my nie,
maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.
- 2 Timoteus 4:8 NAV -
 

________________________


Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css