Droefheid volgens die wil van God
bring bekering wat tot redding lei,
en daaroor was niemand nog ooit jammer nie.
Daarteenoor bring droefheid
uit wêreldse oorwegings die dood.
- 2 Korintiërs 7:10 -
________________________
Om te vrees beteken nie om géén geloof te hê nie.
Vrees kom klop by almal aan.
Maar maak jou vrees 'n besoeker, nie 'n inwoner nie.
- Max Lucado -
________________________
U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie;
U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.
- Psalm 16:10 (53-vertaling) -
________________________
As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!
Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê:
Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.
- Johannes 7:37-38 -
________________________
'n Mens meet die hoogte van 'n berg aan sy spitse
nie aan diepte van sy dale nie.
Net so meet jy die lewe nie aan sy valleie nie
maar aan sy hoogtepunte.
- Viktor E Frankl (1905 – 1997)
________________________
Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou;
kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God.
Ek versterk jou, ook help Ek jou,
ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.
- Jesaja 41:10 -
________________________
Ja, wie is God behalwe die HERE?
Wie is 'n rots buiten ons God?
God is die Een wat my met krag omgord
en my pad gelyk maak.
Hy maak my voete soos dié van wildsbokke;
Hy laat my op hoë plekke staan.
- Psalm 18:32-34 (direkte vertaling) -
________________________
Soos die son aan elke nuwe môre,
so sal die lig altyd weer skyn vir dié mense
wat hulle vertroue op God stel.
- Dr Roland Werner -
________________________
God is ’n toevlug in die nood,
’n rots wat altyd vas bly staan,
al dreig die vyand met die dood,
al storm sy leërbendes aan.
Laat dan maar buig en beef
Al wat ons hier omgeef;
Laat berge uit hul stee
Wegwankel in die see -
Ons sal nie beef of rugwaarts gaan.
- Ps 46:1 (beryming) -
________________________
In my is dit donker, maar by my is Lig
ek is eensaam, maar U verlaat my nie
ek is kleinmoedig, maar by U is hulp
ek is onrustig, maar by U is vrede
in my is bitterheid, maar by U is geduld
ek verstaan U weë nie, maar U weet die regte weg vir my.
- Dietrich Bonhoeffer (1906 – 1945) –
________________________
Sonder om dit te wil of te weet,
dien ons die plan van God.
- Friedrich von Schiller (1759 – 1805) -
________________________
Selfs die grootse genie kon nog nie
die vraag oor die rede van lewe beantwoord nie.
Hierdie raaisel bly ewig, volkome onopgelos.
- Ralph Waldo Emerson (1803 - 1882) -
________________________
Al is Hy gekruisig in die swakheid van 'n mens,
Hy leef uit die krag van God.
En in Hom is ons ook swak,
maar saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe.
Ondersoek julleself of julle in die geloof lewe.
- 2 Korintiërs 13:4-5 -
________________________
Elkeen wat uit God gebore is,
oorwin die wêreld;
en dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin,
ons geloof.
- 1 Johannes 5:4 (direkte vertaling) -
________________________
Die twyfelaar se vraagteken
is die gelowige se uitroepteken.
- Emil Baschnonga -
________________________
Wanneer alles voor my donker lyk,
dan wag ek
en kyk ek terug op al die hulp van God
en weet gans gewis: redding sal daar weer wees.
- Friedrich von Bodelschwingh (1831 – 1910) -
________________________
Hou julle lewe vry van geldgierigheid;
wees tevrede met wat julle het.
God self het gesê:
“Ek sal jou nooit verlaat nie,
jou nooit in die steek laat nie.”
Daarom kan ons met vertroue sê:
“Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie:
wat kan 'n mens aan my doen?”
- Hebreërs 13:5-6 -
________________________
As ons geleer het om in moeilike tye
ons toevlug tot die Here te neem,
dan sal dinge nooit vir ons te veel word nie.
- Nig Sans -
________________________
Die loon wat die sonde gee, is die dood;
die genadegawe wat God gee,
is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.
- Romeine 6:23 -
________________________
Lewe en dood hoort saam op hierdie aarde.
Die koninkryk van God ken slegs die lewe.
- Philipp Dessauer (1837 - 1900) -
________________________
Ek weet, my God, dat U die hart ondersoek
en dat U opregtheid wil hê.
- 1 Kronieke 29:17a -
________________________
Eerlikheid het sy prys.
Maar aan die einde is dit nog steeds
goedkoper as die leuen.
- Wolfgang J. Reus (1959 - 2006) -
________________________
Salig hy wat in die lewe,
sonder hulp en sonder raad,
as hom alles wil begewe,
vlug tot God sy toeverlaat;
en ook in die swartste nag
om die HERE alleen bly wag.
- Psalm 146:3 (beryming) -
________________________
My ellende het nie ongemerk
by U verbygegaan nie,
U het op my trane gelet.
In u boek staan hulle opgeteken.
- Psalm 56:9 -
________________________
Rykdom sal dwaasheid verdra.
- Horatius (65 - 8 vC) -
________________________
Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie.
Hulle wat Hom afgewys het
toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het,
het nie ontkom nie.
Hoeveel minder sal ons ontkom
wanneer ons nie ag slaan op Hom
wat van die hemel af met ons praat nie?
- Hebreërs 12:25 -
________________________
Laat ons elke las van ons afgooi,
ook die sonde wat ons so maklik verstrik,
en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê,
met volharding hardloop,
die oog gevestig op Jesus,
die Begin en Voleinder van die geloof.
- Hebreërs 12:1-2 -
________________________
Dié wat aan Christus Jesus behoort,
het hulle sondige natuur
met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.
Ons lewe deur die Gees;
laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.
- Galasiërs 5:24-25 -
________________________
Waarvoor sal ek bang wees
as my lewe 'n reis is,
met my Vader aan die stuur
en elke Sondag 'n rusplek!
- Duitse volksgesegde -
________________________
Vir ware Hervorming is net één ding nodig:
die volle ryke Evangelie van Jesus Christus
in 'n lewende, gelowige hart.
- Ds Gabe van Duinen (1892-1971) -
________________________
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css