Behou jou morele en spirituele waardes
Viktor Frankl, die bekende Switserse (Joodse) sielkundige wat die Duitse Nazi-kampe, o.a. ook Auschwitz, oorleef het, het die volgende gesê:
"Sielkundige waarnemings van die gevangenes het aangetoon dat slegs dié mans wat die innerlike houvas op hulle morele en spirituele selfwaarde verloor het, die slagoffers van die kampe se degenererende invloede geword het. "
Dít, meer as alles, het hulle hul moed vir die lewe laat verloor. Die uiteinde was die gaskamers. Solank iemand nog kon werk, al was die toestande ook hoe haaglik, en die kos hoe ontoereikend ( die gevangenes moes met 'n stukkie brood en 'n koppie waterige sop per dag oorleef), was hulle lewens gespaar. Die oomblik toe hulle moed opgegee het, was dit verby. Hulle het letterlik inmekaar gesak. Hulle vleeslike liggame kon nie meer nie.
Ons kan ongelukkig In die tye waarin ons lewe, alhoewel geensins so gruwelik as die Nazi-strafkampe nie, dieselfde tendens begin waarneem. Mense wat begin moed opgee omdat hulle die houvas op hulle morele en spirituele selfwaarde verloor.
Die verloop daarvan is soos volg, en is ook tekenend van wat in die strafkampe gebeur het:
Verstomming
Afwagting
Aanvaarding
Apatie
Depressie
Verlies van waardes
Insinking
Die dood.
Laat ons dus mekaar se hande vat en nie toelaat dat ons ons morele en spirituele selfwaarde verloor nie.
Anders is die dood is ons voorland!
________________________
Ons geloof is maar kort!
Wanneer jy die onderstaande lees, onthou die volgende:
Moses was die middelaar van die Ou Verbond tussen God en Sy volk.
Jesus Christus is die Middelaar van die Nuwe Verbond tussen God en Sy volk.
Lees gerus ook Profesieë (1) - Die waarheid agter Jesus Christus elders op die webwerf.
Toe die Israeliete uit Egipte verlos is, was hulle net vir 'n kort tydjie in vervoering. Verlossing het egter ingehou dat hulle die leier wat deur die Here vir hulle gegee is (Moses), blindelings vertrou. Maar toe hulle 'n tyd lank niks van hom gesien of gehoor het nie, het hulle moedeloos en afvallig geword. Hulle het weer die ou gode van Egipte aangehang en na die materialistiese lewe, die vleispotte van Egipte, terug verlang. Sommer lekker feesgevier ook - rondom hulle goue kalf! By sy terugkeer het die volk hulle straf vir hulle ongeloof ontvang.
Ons het ook 'n Middelaar wat ons uit die slawerny van die sonde verlos het. Raak ons nie ook een keer in vervoering as ons hoor dat Hy ons verlos het nie? Omdat ons Hom nie nou sien nie, raak ons nie ook maar weer afvallig nie? Hang ons dan nie maar weer ons eie afgode aan nie? Rykdom, aardse eer en sinnelike genot is mos meer sigbaar en sommer lekker daarby, dan nie?
________________________
Saul se donkies
Ons het 'n epos van `n dame ontvang wat mismoedig is en in haarself begin twyfel omdat sy herhaaldelik vir poste aansoek gedoen het, maar dit nie gekry het nie. Ek plaas my antwoord aan haar hier omdat daar baie mense is wat hulle in dieselfde tipe situasie bevind.
Glo my, jy is nie alleen nie, daar is baie mense wat dieselfde ondervinding gahad het. Dit is eg menslik om mismoedig te voel en in jouself te begin twyfel. In my loopbaan moes ek ook baie keer dieselfde paaitjie loop. Ek praat dus uit ondervinding.
As ek op die pad terugkyk dan kan ek jou een ding verseker. As jy werklik in jou Hemelse Vader glo, dan gebeur al hierdie dinge nie verniet nie. Daar is redes wat jy nie nou verstaan nie, maar wat oor jare vir jou duidelik sal word.
In my eie leeftyd het ek ook vir baie poste aansoek gedoen wat ek nooit gekry het nie, omdat die Here 'n totaal ander pad met my wou loop as wat ekself wou gehad het - ten beste. Hy het my voorberei, deur my soms deur diepe dale en oor hoë berge te neem.
'n Mens doen wat jy dink jy moet doen. jy moet nie NIKS doen nie. Maar op die einde van die dag sal Hy jou lei waar Hy jou die beste kan gebruik.
Kom ons kyk 'n bietjie na Saul en sy pa se donkies. Saul het die wêreld deur gesoek na sy pa se donkies maar kon dit nie kry nie - as daar een persoon was wat regtig moedeloos moes gewees het, dan was dit Saul. Maar die Here het dit so bestuur: Die volgende aanhaling uit die Bybel spreek vanself
1 Samuel 9 vanaf vers 3
En toe die eselinne van Kis, die vader van Saul, weggeraak het, sê Kis aan sy seun Saul: Neem tog een van die dienaars met jou saam en maak jou klaar, gaan soek die esels.
Hy het toe die gebergte van Efraim deurgegaan en die land Salísa deurgegaan, maar hulle nie gekry nie; en hulle het die land Sáälim deurgegaan, maar daar was niks nie; en hy het die land Benjamin deurgegaan, maar hulle het niks gekry nie.
Toe hulle in die land Suf kom, sê Saul aan die dienaar wat by hom was: Kom, laat ons teruggaan; anders sien my vader van die esels af en word oor ons besorg. En hy antwoord hom: Maar kyk, in hierdie stad is 'n man van God, en die man is geëerd: alles wat hy spreek, kom sekerlik uit; laat ons nou daarheen gaan; miskien kan hy ons inlig oor die tog wat ons onderneem het.
Toe vra Saul vir sy dienaar: Sê nou ons gaan - wat sal ons die man aanbied? Want die brood in ons sakke is op, en 'n geskenk is hier nie om die man van God aan te bied nie; wat het ons? En die dienaar het Saul weer geantwoord en gesê: Kyk, ek het nog 'n kwart sikkel silwer by my; dit sal ek aan die man van God gee, dat hy ons kan inlig oor ons tog.
Vroeër het die mense in Israel só gesê as hulle gaan om God te raadpleeg: Kom, laat ons na die siener gaan. Want die profeet van teenswoordig het hulle vroeër siener genoem.
En Saul sê aan sy dienaar: Jou woord is goed; kom, laat ons gaan. Daarop gaan hulle na die stad waar die man van God was. Terwyl hulle die opdraand na die stad opgaan, kom hulle meisies teë wat uitgaan om water te put, en vra vir hulle: Is die siener hier? En dié antwoord hulle en sê: Daar is hy voor jou; maak nou gou, want vandag het hy in die stad gekom, omdat die volk vandag 'n offer op die hoogte het. As julle die stad ingaan, sal julle hom net aantref voordat hy opgaan na die hoogte om te eet; want die volk eet nie voordat hy kom nie, want hy seën die offer; daarna eet die genooides; gaan dan nou op, want julle sal hom nou juis aantref. En hulle het opgegaan na die stad. Toe hulle op die punt was om binne-in die stad te gaan, kom Samuel meteens uit hulle tegemoet om op te gaan na die hoogte.
Want die HERE het dit een dag voor die koms van Saul aan Samuel geopenbaar en gesê: Môre sulke tyd sal Ek 'n man uit die land Benjamin na jou stuur wat jy moet salf as 'n vors oor my volk Israel; en hy sal my volk verlos uit die hand van die Filistyne. Want Ek het my volk aangesien, omdat sy geroep na My gekom het.
Toe Samuel vir Saul sien, het die HERE hom geantwoord: Hier is die man van wie Ek jou gesê het: Hy sal oor my volk heers.
________________________
Voortbestaan van die volk
Vandag se gedagte vir die dag lui: "Die voortbestaan van `n volk word bepaal deur kennis, geestelike krag en moraliteit."
Wat is die toekoms van die Afrikaner volk? Hoeveel kennis en insig het ons mense, en veral die jonger geslag?
Ons (gebrek aan) geestelike krag en moraliteit word direk weerspieël deur die bekendes (ikone) in ons samelewing. Dié mense wat as voorbeelde van ons volk moet dien.
________________________
Kersfees of Christus-fees
Na aanleiding van 'n epos wat ons van een van ons leseresse ontvang het oor kersmusiek in die winkels.
Ek stem volkome saam met jou oor die kersmusiek - dit is deel van die kommersialisering van die Christelike godsdiens. Dit gaan nie oor Jesus nie, maar oor die hoeveelheid geld wat in die seisoen gemaak kan word deur die emosies van die mense op te wek.
Eintlik het Kersfees niks met die koms van Jesus te doen nie. Hieronder volg 'n aanhaling uit 'n boek van adv Theuns Botha - "Heidenbagasies binne die Christendom".
Die geboorte van die Messias word regdeur die wêreld jaarliks op 25 Desember as Kersfees gevier. Daar word egter algemeen regdeur die hele Christendom aanvaar dat die Messias nie op 25 Desember gebore is nie, en dit pla niemand nie (of dit pla net die enkeles).
25 Desember, sonstilstanddag van die Noordelike halfrond (volgens die ou kalenders), is binne die misteriesongodsdienste as die geboortedag van die Onoorwinlike Son (Solis Invictus) gevier, aangesien dit die dag is waarop die dag die kortste en die nag die langste is en die Son van daardie dag af sogenaamd begin groei (gebore word).
25 Desember is wyd deur die Romeinse en Griekse Ryke gevier as 'n vreugdevolle Saturnalia finalia met kerse, dennebome, geskenke en groot welwillendheid as familiedag en as kulminasie van die voorafgaande weeklange Saturnaliafees van orgies, dronkenskap en jolyt (vanaf 17 tot 23 Desember). Dit was ter voorbereiding van die viering van die jaarlikse geboortedag van die Son en songode.
24 Desember was 'n rus- of hersteldag, Ou Kersedag, die dag waar van ou kerse uit die voorafgaande Saturnaliafees ontslae geraak is en nuwe kerse vir Saturnalia finalia reggemaak is, 'n tipe van skoonmaak en reiniging voor die mees gemoedelike fees van die jaar, Kersfees: alles reeds jare en eeue voor die Messias op die aarde was.
Na 200 v.C. is veral Attis, na 67 v.C. veral Mithras en na 27 v.C. veral Memnon, se geboortedae op 25 Desember in Rome gevier.
Attis se gedenkboom was die denneboom, aangesien, toe sy songodbruid vermoor is, hy homself uit verdriet onder 'n denneboom ontman en daar doodgebloei het.
Die Skrif vermeld daarteenoor glad nie die viering van enige verjaarsdag nie, ook nie die viering van die Verlosser se verjaarsdag nie, en skryf dit ook nie voor nie.
� Waar kom ons dan aan 25 Desember as die geboortedag van die Messias wat ons as sulks vier, maar wat nie Sy geboortedag was nie?
� Waar kom ons dan aan die betrokkenheid van kerse en die naam Kersfees en is dit onderskeibaar van die Kersfees wat reeds vanaf baie jare voor die Messias gevier is?
� Waarom word vandag se Kersfees steeds op 25 Desember gevier?
� Waarom word dit dan enigsins gevier?
( ------ Tot hier die aanhaling -------)
Streng gesproke moet ons ons elke dag in Jesus verbly en Christus-fees vier. Want Jesus Christus was nog altyd by ons, Hy is nie op 'n spesifieke dag gebore nie,Hy was alreeds. Hy is die Woord wat op 'n bepaalde dag vlees geword het. Johannes sê dit baie mooi:
(Joh 1:1) In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
(Joh 1:2) Hy was in die begin by God.
(Joh 1:3) Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
(Joh 1:4) In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
(Joh 1:5) En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.
(Joh 1:9) Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.
(Joh 1:10) Hy was in die wêreld, en die wreld het deur Hom ontstaan, en die wreld het Hom nie geken nie.
(Joh 1:11) Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.
(Joh 1:12) Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
Laat ons dan saam met ander gelowiges die Christus-fees vier, maar laat dit nie net by die mensgemaakte Kersfees bly nie, maar die hele jaar!
________________________
Oor lewe en dood
Hierdie aardse bestaan is net 'n voorbereiding en deurgang na 'n volgende lewe wat ons eers kan bereik wanneer ons ons aardse tydelike bestaan vir die ewigheid verruil het. Lees gerus die artikel: Lê die waarheid met betrekking tot die mens se bestaan opgesluit in 'n varingblaar?
Die een vraag wat so dikwels gevra word, is, wat is die sin van ons bestaan? Hoekom word ons in elk geval gebore? Is dit maar net om weer vroeër of later te sterwe, en dan met tyd in die vergetelheid te verdwyn?
Die antwoord hierop, as gelowige, is dat die aardse bestaan eintlik die eerste tree van ons lewe is. Dit is die tyd van beproewing (dit is op die proef stel). Indien ons proeftydperk slaag, sal ons, na ons liggaamlike dood, die ewige lewe saam met Christus in die Koninkryk van God smaak. Dit is ook genade tyd - tyd wat God jou bied om tot geloof in Hom te kom en om Sy groot geskenk aan jou te aanvaar en te ervaar. Die lewe wat vir jou gebied word in en deur Christus Jesus.
________________________
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css