Stuur boodskap aan 'n vriend
Druk boodskap

Staan vas - moenie vrees nie

"Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk" Eksodus 14:13 (1953 - vertaling)

Die Israeliete was vasgevang. Voor hulle was die see, agter hulle die Egiptenare. Menslik gesproke was daar geen uitkomkans nie.  In hulle angs en paniek kon hulle nie verder kyk as Moses nie. Nou word daar verwyte na Moses geslinger. Hulle dink nie meer aan die wonders wat die HERE enkele dae tevore in Egipteland gedoen het nie. Maar Moses sê vir hulle “staan vas” , moenie angstig raak nie,  moenie weghardloop nie, hou moed,  want kyk die HERE gaan julle verlos - wees stil want die HERE gaan vir julle stry, nie ek nie, nie julle nie, maar die HERE self.

Die HERE het vir Hom ‘n volk uitverkies. Uit hierdie volk sou die uiteindelike Verlosser, wat groter is as Moses,  gebore word.  Die duiwel het dit ook besef, daarom moes hy alles in sy vermoë doen om dit te voorkom. Eers was daar die opwekking van vrees, dan later die verleiding tot afgodery. Maar die HERE tree elke keer in om sy volk te red en wanneer nodig, ook te suiwer.  Die volk sou later, juis as gevolg van hulle afgodery, deur ‘n smeltkroes gaan. Maar die HERE se doel het onwankelbaar vas bly staan.

Die Verlosser het op die tyd gekom soos die HERE dit bepaal het.  Soos Moses die volk uit die slawerny van Egipte na die beloofde land uitgelei het, lei ons Verlosser ons uit die slawerny van hierdie wêreld na die nuwe Beloofde Land, waar ons ewig saam met Hom sal wees. Die duiwel kon nie verhoed dat die Verlosser gebore word nie, daarom moet hy ten alle koste verhinder dat die nuwe verbondsvolk Jesus navolg.  Die wapens wat die duiwel nou gebruik is presies dieselfde as in die tyd van Moses, dit is, om moedeloosheid, angs en paniek by die volgelinge van Jesus op te wek, sodat hulle na oplossings buite die HERE sal soek.

Ons hoor en sien so baie negatiewe berigte in die pers, oor die radio en op die televisie. Daar is die ineenstorting van die globale ekonomiese stelsels. Regerings begin wankel en kom tot ‘n val. Daar is oorstromings en aardbewings op baie plekke.  Aardverwarming neem vinniger toe as wat die wetenskaplikes voorspel het. Nie net in Suid-Afrika nie, maar oral oor die wêreld neem die onsekerheid en angs toe.

Maar die HERE sê vir ons ook vandag: wag, staan vas, moenie vreesbevange raak nie, want Ek is in beheer. Ek het ‘n doel met hierdie wêreld. Ek sal My mense uitlei na ‘n nuwe wêreld “waar geen mot en roes verniel en diewe nie inbreek en steel nie” (Mat 6:19).

Wag, as die dae van onsekerheid opdaag. Wag altyddeur as jy nie meer herwaarts of derwaarts weet nie.  Moenie in vrees iets doen waar jy later oor spyt sal wees nie.

 "O, as ek nie geglo het dat ek die goedheid van die HERE sal sien in die land van die lewendes nie….  Wag op die HERE! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE! " Ps 27:13 -14

-dw-

<< Vorentoe