Die Weg

 

Geloof en liefde teenoor vrees en angs

Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie”. 1 Joh. 4: 18.

Ons sou graag almal vry wou wees van vrees en angs. Die goeie nuus is dat ‘n mens dit wel kan oorwin. Nee, dit is nie deur ‘n houding van bravade in te neem nie. 'n Mens weer nie 'n dreigende bankrotskap af deur te maak of jy 'n miljoenêr is nie. 'n Mens delg nie 'n gevaarlike debiet op jou bankrekening deur 'n tjek uit te skryf nie.

God wys vir ons die enigste twee weë waarop ons vrees en angs werklik kan oorwin, nl deur geloof en liefde. Eintlik is dit één weg, want ‘n mens kan nie geloof hê as die liefde nie ook teenwoordig is nie, en ‘n mens kan ook nie ware liefde gee sonder die geloof in Jesus Christus nie. Paulus leer ons in Galasiërs 5:6 dat die geloof deur die liefde werk. Wanneer dié God, vir Wie ons alle rede het om te vrees, ons toeroep: “Moenie vrees nie, glo net”, dan kan ons waarlik maar ophou vrees. Moenie bang wees om op God te vertrou nie. God sal ons vertroue in Hom nooit teleurstel nie. Ons eer Hom deur in Hom te glo. Daarteenoor verwyt Hy ons as ons nie in Hom glo nie: "Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?" (Num 14:11).

Die geloof herstel die verhouding tussen God en ons wat deur ons ongeloof en wantroue afgebreek is. Mense sê soms vir mekaar: “As jy my nie meer glo nie, moet jy maar gaan”. Dit is erg. Dan is daar geen gemeenskap meer nie. As ons God nie meer vertrou nie dan word die band tussen ons en Hom ook verbreek, en dan neem die vrees sy oorhand oor ons. Ons het hier ‘n dubbele band wat ons bind: as ons op God vertrou dan het ons Hom lief en omdat ons Hom liefhet, vertrou ons op Hom. Sondes wat nooit bely is nie en waarvoor ons nie vergiffenis gevra en gekry het nie,  bring skeiding en vrees mee. Die verhouding van vertroue is verbreek en die liefde gewond. Maar as alles weer reggemaak is en die liefde leef weer, is die vrees ook weg. “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees na buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.”

Wanneer jy God vrees en nie vrymoedigheid het om Hom jou Vader te noem nie, bely dan jou sonde van liefdeloosheid en wantroue, van afval en ongehoorsaamheid teenoor Hom. En glo die goeie nuus van Kersnag! As die gemeenskap in Christus herstel is, dryf dit ons tot wederliefde en daardie liefde dryf die vrees uit. Die Bybel skryf telkens van vrees en angs. Maar die Bybel skryf nog meer van die oorwinning oor vrees en angs - omdat God genadig is en ons deur Christus van vrees en angs verlos is, omdat ons verlos is van die sonde.

Ds J Overduin

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css