Die Weg

 

As ek angstig raak

“Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” Jesaja 41:10

In Jesaja 41 lees ons hoe die Woord van die Here na sy kinders gekom het toe hulle moedeloos, bang en angstig was. Die volk van Israel was in ballingskap toe hulle hierdie woorde gehoor het. Hulle het alles verloor: hulle huise, besittings en beroepe, en moes ook van hulle geliefdes aan die dood afstaan. Die toekoms was vir hulle donker. Hulle het geen hoop gehad nie. Vir baie van hulle was die ballingskap boonop ’n geloofskrisis. Hoe kon dit tog gebeur? Was hulle dan nie die uitverkore volk van God nie? Het die Here dan vergeet van sy beloftes? Was die Babiloniese gode dan magtiger as die Here? Is God saam met die tempel verwoes? Waar is Hy?

Midde in hierdie mismoedige, ja, byna troostelose omstandighede, hoor hulle die bekende stem van God wat vir hulle sê: “Ek is die Here jou God” (Jes. 41:13). Ek is jóú God. Dit is die fondament van troos vir elkeen wat in nood verkeer en angstig is: die Here is ons God! Hy leef en staan in ’n persoonlike verhouding met ons. Dié besondere verhouding word in verse 8-9 aangetoon. Met baie liefde beklemtoon die Here hierdie intieme verhouding wat daar tussen Hom en die mense met wie Hy praat, bestaan.

In Jes. 41:10 hoor hulle, “moenie bang wees nie, Ek is by jou”, woorde wat dwarsdeur die Bybel weerklink. Deur dik en dun, was, is, en sal die Here altyd by sy kinders wees. Van die begin af was dit so. So was die Here by Abraham oral waar hy rondgetrek het. So was die Here by Moses van sy geboorte tot sy dood. Soos ’n goue draad loop die belofte van die teenwoordigheid van die Here deur die hele Ou Testament. En in die Nuwe Testament lees ons dat Jesus, Immanuel, God by en met ons, is. Hy het self beloof dat Hy tot die voleinding van die wêreld altyd by sy kinders sal wees (Matt. 28:20). Hieraan mag ons nie twyfel nie. God is by ons, ook as alles skeef loop, as ons hoop verloor en angstig raak.

Meer nog, Israel hoor verder ook nog van die Here: “Ek versterk jou” (Jes. 41:10). Die teenwoordigheid van die Here is nie passief nie, maar is ’n versterkende teenwoordigheid. Hy het aan hulle krag gegee. Krag om op te staan uit die kuil van moedeloosheid. Krag om die werklikheid in die oë te kyk. Krag om skouer aan die wiel te sit en iets te doen. Krag om voort te gaan en te leef.

Toe Jesus in die tuin van Getsemane angstig geraak het, het God Hom versterk en kon Hy opstaan en die kruispad enduit loop. Toe Paulus in die tronk was, het die Here hom versterk en kon hy sing (vgl. Hand. 16) en voortgaan met sy roeping en bediening. Dit is die belofte aan elkeen wat voel dat hy/sy deur angs verlam word.

Moenie bang wees nie, want die Here versterk jou. Die Heilige Gees het mos juis gekom om ons te versterk. Deur die krag van die Gees kan ons ons angs oorwin.

Moenie bang wees nie. Ek is by jou, Ek versterk jou, Ek help jou, Ek vat jou hand en hou jou vas. Dit is die belofte van die Here aan ons. Op dieselfde manier behoort ons ook vir mekaar om te gee.

Ds Hentie Krüger

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css