Die Weg

 

Jou toekoms

En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld”. Matteus 28:20.

Jy moet aan jou toekoms dink! Dit sê jou ouers elke dag vir jou. En jy sê dit weer vir jou vriend as hy sy vrye tyd te veel verkwis. Dan sê jy dis “sonde” dat hy sy tyd so mors. Aan die ander kant sit daar ook baie in die gesegde dat jy maar eenmaal jonk is. Die luukse om vry te wees en soms iets mals te doen, is 'n “voorreg” van studente en ander jong mense. Studente moet hard werk en soek uitvlug in die malligheid. Werkende jong mense kan, deur 'n bietjie hard te werk, geld verdien wat hulle in staat sal stel tot vermaak. Maar kan harde werk of geld jou toekoms verseker?

Is daar nog 'n toekoms? Sommige mense is swartgallig oor die toekoms. Ander jong mense is in verset teen 'n toekoms waarin ons, as gevolg van duistere magte, in die niet kan verdwyn of in chaos kan verval.

As Christen weet jy van 'n Toekoms met 'n baie groot T, naamlik die wederkoms van die Here en die deurbraak van Sy Nuwe Wêreld. En jy weet ook dat Hy hulle wat aan Hom behoort, nie op die pad daarheen alleen sal laat nie. “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Dit het Hy gesê in verband met Sy sendingopdrag. Ons het 'n boodskap vir dié wat moedeloos is, 'n taak vir dié wat traag is, 'n trooswoord vir dié wat geknak is.

En Jesus se opdrag is altyd verbind met Sy beloftes. Hy praat ook streng persoonlik, soos met Petrus: Volg jy My maar, en laat My nooit weer los nie. Die eintlike Toekoms is dat Hy weer na ons toe kom, soos Hy gekom het as die Here Jesus.

Dr JCA van Loon (Dafinale)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css