Die Weg

 

Die Bybel en die besige lewe

Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank”. Daniël 6:11 (NAV)

'n Mens kry vandag maar min mense wat vrye tyd skyn te hê. Elkeen dink hy self is so vreeslik besig. “Die lewe neem jou heeltemal in beslag,” sê hulle dan. En daardeur moet die Bybel elke keer skade ly. Dikwels is dit: “Kom ons lees net gou 'n stukkie.” Soggens staan ons te laat op. Saans is ons te moeg en vaak. Altyd is daar 'n rede om die Bybel opsy te skuif.

En wie kan ontken dat jy besig is, dat die lewe gejaag en haastig is? Daar is 'n man in die Bybel wat seker nie baie vrye tyd gehad het nie: Daniël. Hy was die Eerste Minister van 'n geweldige groot wêreldryk. Wat 'n verantwoordelikheid! Hoeveel probleme moes hy nie gehad het nie! As één oor 'n vol en besige lewe kon kla, dan was dit hy.

Tog het hy volgens sy gewoonte, drie maal per dag gebid. Daarvoor het hy vaste tye en 'n vaste plek gehad. Hy het “vensters gehad wat oop was in die rigting na Jerusalem”. Hy het, met ander woorde, die tralies voor sy venster weggebreek, sodat hy daar kon uitleun en rustig in die rigting van Jerusalem kon kyk. En daar kon jy hom op sekere vasgestelde tye kry.

En wie was daar wat meer intens besig was as Jesus? Hoeveel sorge was nie Sy deel nie? Hoeveel energie het Hy nie elke dag benodig nie? Tog lees ons dat Hy, selfs Hy, kort-kort die stilte opgesoek het. Hy het dit blykbaar nodig gehad. Het jy dit dan nie óók nodig nie?

Breek ook 'n stukkie van jou woelige, besige lewe af, en gee daarin plek aan Bybellees en gebed. Elkeen kies vir homself die tydjie wat vir hom die beste pas. Gewoonlik is die aand die mees geskikte tyd. Solank dit net 'n vasgestelde tyd is. Anders bly dit so maklik in die slag. Laat die Bybel nie in jou besige lewe ten onder gaan nie.

Dr C Gilhuis

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css