Die Weg

 

Blydskap, omdat die Here altyd naby aan jou is

"U maak hom altyd voorspoedig, U skenk hom oorvloedige blydskap deur u nabyheid". Psalm 21:7 NAV

Die begin van ‘n werksweek lê oop voor ons. Daar sal beslis moeilike dae wees, ook moeilike mense met wie jy te doen kry. Wanneer jy die Here wil gehoorsaam, sal daar teenstand wees. Vyande van die Here, is ook jou vyande as jy Hom wil dien.

Met watter gesindheid en verwagting gaan ons dan ‘n week met slaggate en lang hoogtes tegemoet? Uit watter krag sal ons die vyande op die slagveld kan ontmoet?

Daar is blydskap moontlik, selfs wanneer ons dit die minste verwag.

Psalm 21 is ‘n loflied oor die koning se oorwinnings. Maar die koning kry nie die eer daarvoor nie. Hoor net hoe word ons na die eintlik bron van oorwinning en blydskap gelei: “Here, dit is oor die openbaring van u mag dat die koning so bly is, dit is oor die oorwinning wat U hom gegee het, dat hy so jubel en juig.” (Ps 21:1). Die mag van die Here maak die koning bly. Die oorwinning wat God gee, laat hom jubel en juig! En die manier waarop die koning opgetree het, laat God die eer kry.

Ons is nooit alleen op ons lewenspad nie. Selfs op daardie eensame woestynpaaie, of die digte verkeer waarin jou motor verdwyn, is die Here by ons. Soveel te meer wanneer ons vegtend in die leër van die hemelse koninkryk is. Langs ons, selfs binne ons, veg die Almagtige. “Die koning vertrou op die Here en deur die trou van die Allerhoogste struikel hy nie.” (Ps 21:8). Die Here Jesus se belofte staan vas: wees gehoorsaam aan My opdragte, wees My getuies, stry teen die Bose magte, hou aan om goed te doen – Ek is met jou. Hy is Immanuel. Die Heilige Gees, een in wese met die Vader en die Seun, gee krag en troos en leiding. Loof die Here, want Hy is altyd naby aan die wat Hom dien.

Kom ons gaan hierdie dag en week met daardie geloof en gesindheid tegemoet. Met blydskap in die hart, met jubeling op die lippe! Laat die mense wat saam met ons vir die Here stry, raaksien en bely: U skenk hom oorvloedige blydskap deur u nabyheid.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css