Die Weg

 

Kyk waar jy gaan!

"...ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus". Fil 3:13-14

Baie mense ly aan bedruktheid en selfs depressie omdat hulle meer besig is met die verlede as die toekoms. Iemand wat uit ervaring praat vertel my die week dat sy dit soos motorbestuur sien. As jy die heeltyd, of ten minste te veel in jou truspieëltjie kyk, sien jy nie wat voor jou gebeur en waarheen jy oppad is nie! Natuurlik is dit 'n resep vir 'n moontlike ongeluk.

Miskien moet jy van daardie gewoonte afsien, en eerder as om heeltyd in daai klein ou truspieëltjie te kyk, voor jou kyk. Voor jou is 'n yslike windskerm wat jou laat sien wat rondom jou en voor jou plaasvind. Jy kan ook duidelik die padtekens sien en koers hou... sonder ongelukke!

As mens bestuur is dit wel belangrik om gereeld agtertoe te kyk. Die verlede is immers onlosmaaklik deel van jou lewe nou en ook van jou toekoms. Om egter heeltyd terug te kyk en jou foute en mislukkings te onthou, bring jou gou by selfverwyte en selfs verbittering. Dit laat so maklik 'n gees van swaarmoedigheid en bedruktheid. Die goeie Herder het egter gekom sodat ons die lewe kan hê in oorvloed (Joh 10:10). Dit is dus beter om deur die groot windskerm van jou lewe vorentoe te kyk en die lewe as 'n uitdaging te sien. Buitendien gee die Here jou die padwysers - sy Woord is die lamp vir jou voet en die lig vir jou pad (Ps 119:105).

Wie vorentoe kyk het 'n heerlike toekomsverwagting. Dit is soos om in die wildtuin te ry in afwagting om die diere en pragtige natuurskoon te sien. In jou truspieël sal jy dit nie sien nie! Vol verwagting ry jy om die skoonheid van God se skepping te sien wat om die volgende draai op jou wag. Heerlik om op toer te wees en die verwagting te hê van die volgende dorpie met sy kultuur en plekke van besigtiging. So is die lewe ook 'n reis. Nie 'n toer na nêrens nie. Ons is pelgrims oppad na dit wat God vir ons voorberei het: in hierdie lewe die geleenthede van elke dag, en na hierdie lewe, die ewige heerlikheid en die heilige stad van God.

Paulus skryf daarom: Ek vergeet wat agter is en strek my uit na wat voor is en span my in om die hemelse prys te behaal (Fil 3:13,14). 'n Hardloper kyk tog nie heeltyd om nie. Voor ons is die wenpaal. Daar staan Jesus Christus wat reeds die wedloop voltooi het. Hy oorhandig daar die pryse aan almal wat volhardend die wedloop voltooi. Hy is die Begin en die Voleinder van ons geloof (Heb 12:2).

Mens, kyk dus waar jy gaan! Kyk vorentoe!

Ds Maarten van Helden

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css