Die Weg

 

Glo en vertrou

"Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?"  Joh 11:40 OAV.

Martha en Maria kon nie verstaan wat hulle Here besig was om te doen nie. “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie” (vers 32). Agter dit alles kan ons hulle gedagtes probeer lees: ”Here, ons verstaan nie waarom U so lank getalm het nie. Ons verstaan nie waarom U kon toelaat dat die man vir wie U so lief was, sterf nie. Ons verstaan nie waarom U toelaat dat lyding en verdriet oor ons kom terwyl U teenwoordigheid dit sou voorkom het nie. Hoekom het U nie gekom nie? Dit is nou te laat, want hy is al vir dae lank dood!

Maar in dit alles het Jesus maar net die een groot waarheid: “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?

Abraham kon nie verstaan waarom God kon vra dat hy sy seun moes offer nie, maar hy het vertrou. En hy het die heerlikheid van God gesien in die teruggawe van sy geliefde.

Josef kon nie die wreedheid van sy broers verstaan nie, die valse getuienis van die verraderlike vrou, en die lang jare van onregverdige gevangenisskap nie, maar hy het vertrou en uiteindelik die heerlikheid van God in dit alles gesien.

Jakob kon nie die vreemde voorsienigheid verstaan wat toegelaat het dat dieselfde Josef van sy vader se liefde weggeruk is nie, maar hy het die heerlikheid van God gesien toe hy in die gesig van dieselfde Josef vasgekyk het as onderkoning van Egipte, en as die beskermer van sy eie lewe en die lewens van ‘n groot nasie.

En so, heelmoontlik in jou eie lewe. Jy sê: “Ek verstaan nie waarom beproewings toegelaat word om my te tref nie. Ek verstaan nie die ompaaie waarop die Here my lei nie. Ek verstaan nie waarom my doel en planne wat so goed vir my gelyk het, verydel word nie. Ek verstaan nie hoekom die seëninge wat ek so nodig het, só lank uitgestel word nie”.

My vriend(in), jy hoef nie God se weë met jou te verstaan nie. God verwag nie van jou om dit te verstaan nie. Jy verwag ook nie van jou kind om alles te verstaan nie, maar om net te glo. Eendag sal jy die heerlikheid van God sien in díe dinge wat jy nie nou verstaan nie.

(Uit: Streams in the Desert)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css