Die Weg

 

'n Wêreld op soek na Jesus

‘n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het”. Joh 6:2
“...Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met hom gegaan nie”. Joh 6:66

Toe Jesus op aarde was, was die mense Hom goedgesind. So het dit altans gelyk. Hulle het agter Hom aangestroom. Johannes 6 begin met 'n groot getal: 5,000 - maar dieselfde hoofstuk eindig met net die twaalf dissipels. Die duisende was maar slegs skyn.

Die skyn duur vandag nog voort. Dis die skyn van die Christelike humanisme. Daar sal wel vir Jesus ‘n plekkie wees.

Onthou, die skyn kan jou verblind. Moet net nooit vergeet dat dit maar net skyn is nie.

Dit is 'n groot versoeking om die Naam van Jesus vir ons wêreldse beskouings te gebruik. Ons dink dan so maklik aan meer toeganklikheid, aan groter geleenthede. Daar is mos nou 'n brug na mense: “pas op moenie hierdie brug stukkend slaan nie!”, sê ons. Ons dink: “ons moet versigtig met die evangelie te werk gaan, sodat ons nie mense afstoot nie”. Ons moet mos maar te bly wees as die wêreld luister. Moes Jesus nie maar te bly gewees het toe Hy ingang gevind het by die mense nie? Moes Hy Sy eise ook maar liewer nie te kras gestel het nie?

Nee, dit doen Jesus nie. Hy het nie na die aarde gekom om die mense tevrede te stel nie, maar om God te behaag. Daarom is Sy evangelie iets meer as net 'n klomp mooi woorde. Want nie die skyn nie, maar die waarheid, sal die mens vrymaak.

Ds L Kuiper (Dagfinale)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css