Die Weg

 

Om op water te kan loop

Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”
“Kom!” sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom.
Matt 14:28-29

Wat dink ‘n mens as jy Matteus 14:28 lees?  “Here, as dit U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” Dis darem 'n gevaarlike ding wat Petrus hier doen. Dis 'n waagstuk om selfs te probeer om op die golwe te loop. Wie kan dan op water loop? Nie ons nie! Ons loop met vrymoedigheid op die paaie waarmee ons goed bekend is. Ons voel daar rustig en veilig, al is dit ook die baie glibberige paadjies van onrein begeertes. Ons is so gewoond daaraan. Ons is nie eers meer bang dat ons miskien heeltemal op die verkeerde plek kan uitkom nie.

Maar Petrus wil na Jesus toe gaan! 'n Fel, hartstogtelike verlange dryf hom tot sy gewaagde begeerte.

Toe Jesus sê: “Kom!”, klim Petrus sonder aarseling uit die skuit. En die golwe dra hom. Dink daaraan: Petrus het homself nie aan die golwe toevertrou nie. Hy het hom geheel en al aan Jesus toevertrou. En so loop hy verder in die geloof! Deur Christus bewaar en gedra. Hy wandel op die see.

Dit is geloof - om op die golwe te loop. Om voort te gaan, al kan jy geen pad sien nie. 'n Waagstuk? Wie dit só sien, verwag dalk tog weer iets van homself. Van sy eie durf.

Geloof het niks met “waag” te doen nie. Geloof is om jou heeltemal aan God toe te vertrou! Alles van Hom te verwag.

Dit lyk gevaarlik . . . vir die buitestaander. Maar dit is veilig so! Durf dit maar aan. Plaas maar alles op die spel. Solank jy net weet jy is op pad - na Jesus.

Dr FE Hoekstra (Dagfinale)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css