Die Weg

 

Die geloof - 'n bewys

Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”. Heb 11:1

Mense het 'n matelose vertroue in hul sintuie. “Ek het dit met my eie oë gesien, met my eie ore gehoor!” Daarmee wil hulle 'n einde aan alle teenspraak maak. Hulle dink nie daaraan dat 'n mens se oë en ore jou tog vreeslik kan bedrieg nie. Hulle het 'n naïewe geloof in die juistheid van wat hulle sintuie waarneem. Hulle stel ook net belang in dinge wat gesien, gehoor en met die hande gevoel kan word. Alleen sulke dinge het vir hulle werklikheid. Wat jy nié kan sien nie, beskou hulle as onwerklik, net goed genoeg vir dromers, dwepers en mense wat nie tussen die fantasie en die werklikheid kan onderskei nie. Dink hulle ooit daaraan dat die sogenaamde werklike wêreld jou in een oomblik ontneem kan word? As die dood ons bekruip en ons oë breek, wat hou ons dan oor van die sigbare wêreld?

Die dinge wat 'n mens kan sien is tydelik, sê Paulus in 2 Kor. 4. Die dinge wat 'n mens nie kan sien nie, is ewig. En dan gaan Paulus verder met “ons weet”. Hy sê nie, “ons vermoed” nie, of  “ons sal maar nog hoop” nie. Nee, “ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het van God, 'n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele” (2 Kor. 5 : 1-10). Hoe kan Paulus so seker praat oor dinge wat hy nog nooit gesien het nie? Dit is die geloof wat hom so laat praat.

Die geloof, wat 'n onomstootlike bewys is van die bestaan van die onsienlike dinge.

Ons is dikwels net so dwaas soos 'n Tomas wat wel wil glo wat sy sintuie hom vertel, maar weier om die woord van Jesus, die woord van God, te glo. Maar salig is hulle, wat nie gesien het nie en nogtans glo.

Ons sintuie kan ons bedrieg. Maar die beloftes van God bedrieg nooit. Miskien sien ons dit nie altyd nie, maar ons glo dit. En dan sien ons dit tog ... Want ons sien Jesus met eer en heerlikheid gekroon!

Dr FE Hoekstra (Dagfinale)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css