Die Weg

 

Het jy tyd?

"Ek is besig met 'n groot werk. Ek kan nie kom nie.' Nehemia 6:3

Nehemia se opdrag van die Here was om die mure van Jerusalem te herbou.  Hy het gespook om dit te midde van al die probleme gedoen te kry. Sanballat en sy trawante was gedetermineerd om Nehemia se aandag af te trek en het hom vier keer versoek om sy werk te los en met hulle in gesprek te tree. Sy antwoord was egter: " Ek is besig met 'n GROOT werk. Ek kan nie kom nie."

As 'n mens die boek Nehemia lees wil dit voorkom asof die taak waarvoor die Here hom geroep het soveel groter is as jou eie persoonlike opdrag. Nie elkeen is geroep om 'n monument te bou wat eendag opgeteken gaan staan nie, maar elkeen is besig met sy eie roeping. Sien ons dit raak? Daardie keuse wat jy gemaak het in die besigheid omdat jy nie kans gesien het om God te verloën nie, en nou finansieel nie so goed daaraan toe is nie. Die mamma wat besluit het om tuis te bly om die kinders wat hulle van die Here ontvang het groot te maak, a! word daar nou uit die besigheidswêreld op haar neergesien. Daardie opoffering wat gemaak is sodat jou naaste ook 'n plek in die son kon kry.

Hoor ons die Here roep in die alledaagse of hoor ons net die wêreld as dit roep om ons aandag van God af te trek. Kies ons vir tyd met ons gesin en sê: 'Ek is besig met 'n groot werk. Ek kan nie nou kom nie" of word ons meegesleur deur die gejaag van die samelewing. Wanneer boet of sus vanaand naggesê word in sy/haar bedjie sê ons dan teenoor die wêreld: "Ek is besig met 'n groot werk. Ek kan nie nou kom nie", of bly ons gedagtes besig met alles wat ons moet opoffer omdat mamma nie werk nie.

Daar is so baie geleenthede wat ons fokus kan verskuif: geld, sport, verhoudings, vermaak, stokperdjies, selfs godsdienstige aktiwiteite. Dit is so maklik om besig te bly, ja, selfs met "goeie" dinge, waardeur God se roeping dan misgekyk word. God gee self die opdrag in Mat 6:33: "Soek eers die koninkryk van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee".

Bid dat God die fokus bly. Dat Hy ore gee wat hoor en voete wat Hom volg as Hy roep.

Louise Grobler

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css