Die Weg

 

Uiteindelik doen God dit

"Hulle noem die plek tot vandag toe die Akorlaagte". Josua 7:26

'n Mens kan baie doen om jou hartseer te troetel, jou terneergedruktheid by jouself en by ander in te vryf, jou moedverlorenheid elke dag weer onder jou eie aandag te bring.

Dit is waar dat Agan die dood oor sy mense gebring het, en die teëstanders van die Here die geleentheid gegee het om Sy groot Naam in oneer te bring. Maar was dit nodig om hierdie donker dag se gebeure met 'n pleknaam te verewig?

Natuurlik was dit daardie dae die gewoonte om sulke dinge te doen. Ook ons het 'n Weenen, 'n Moordspruit - name wat hartseer verewig het. Maar soos ons gister gesien het wat die Here vir Josua gesê en laat doen het, moes die lig van hoop op beter dae tog weer deurgebreek het. Dinge sal nie donker bly nie. Saam met God bly niemand vir altyd op moedverloor se vlakte, in die Akorlaagte, nie.

Daarom lees ons in Hosea 2:14 van die verandering. Hier sê die Here vir sy volk: . . ."Ek sal die Akorlaagte 'n poort na 'n nuwe toekoms maak" - 'n toekoms van rus, kommervry waar mens en dier rustig lewe onder God se sorg.

Laat die Here dit vandag ook vir jou so maak.

Gebed: Neem my sorge, Here, en maak my vry van kommer.

************************

Prof AH van Zyl (Uit die Beek)*
*Met vriendelike samewerking van Lux Verbi. Lux Verbi se boeke is by alle goeie boekhandelaars, landwyd beskikbaar . Kan ook bestel word by www.luxverbi.co.za of deur 0861 668 368 te skakel.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css