Die Weg

 

Bly lê is nie die antwoord nie

Toe sê die Here vir Josua: "Staan op. Hoekom lê jy met jou gesig in die grond? Josua 7:10

Dit het begin as deel van sy gebed (v 6). Voor die Here het hy en die leiers van Israel in selfvernedering op die grond gaan lê. Die neerlaag by Ai het almal se moed gebreek (v 5). Die vraag wat vir die Here gevra word, is die vrae van 'n mens wat nie weet hoe nou verder nie (v 7-8). Maar die Here wil nie hê Josua moet bly lê nie.

Om na mislukking en teleurstelling te bly lê, red nie die situasie nie. So 'n mens verskil nie juis van 'n Elia onder die besembos nie(1 Kon 19:4), of ‘n Jona buite Nineve nie (Jona 4:3). Elke mens het 'n "moedverloor se vlakte" in sy lewe, party selfs meer as een. Maar die radeloosheid verdwyn nie vanself nie.

Opstaan, iets doen! Vasstel waar en waarom dinge skeefgeloop het. Dis wat die Here van 'n mens verwag. Jou lewe moet positief voortgaan. Bly lê, maak jou lam en pap. Moed wat gebreek is, moet oorwin word deur moed wat aan die werk spring en reg maak wat verkeerd is. Ons oumense het altyd gesê: "Van sit en staan kom niks gedaan". Van bly lê nog minder. Ons moet ons oomblikke van self -verootmoediging hê, ook van selfondersoek. Maar dáárna moet ons aan die werk spring.

Gebed: Dankie, Here, dat U die raad en die krag gee om altyd maar weer te kan opstaan.

************************

Prof AH van Zyl (Uit die Beek)*
*Met vriendelike samewerking van Lux Verbi. Lux Verbi se boeke is by alle goeie boekhandelaars, landwyd beskikbaar . Kan ook bestel word by www.luxverbi.co.za of deur 0861 668 368 te skakel.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css