Die Weg

 

Bou jou voorrade op

Welgeluksalig is die man, o Here, wat U onderrig en wat U leer uit u wet, om hom rus te gee van die dae van teëspoed, totdat die kuil vir die goddelose gegrawe word”. Psalm 94:12-23.

Dit is nodig om ons geestelike voorrade op te bou voordat die kwade dae kom. Dat dié dae van toetsing sal kom, weet ons almal. Die onverwagte versoeking kan enige oomblik kom. Die ouderdom stel sy besondere eise. Siekte en die doodsvallei wag vir ons almal. Die teëkanting teen die gelowiges sal toeneem namate die wederkoms naderkom.

Vir hierdie en baie ander toetse moet ons ons voorberei deur genoegsame voorrade op te bou. Daarom waarsku die Bybel: “Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom” (Pred. 12 : 1). Nie alleen vir die dae van teëspoed wat ons reeds ken nie, maar vir dié wat kom, gee God oorwinning deur sy onderrig en die lering uit sy Woord.

Vandag sal ons in die kerkdienste, by die kategetiese onderrig, oor die radio en in die binnekamer voorrade opbou vir die komende week en maande en jare. Want dié voorrade sal ons dringend nodig hê in dié dae wanneer ons nie die tyd of geleentheid sal hê om dit te soek nie - dan moet dit reeds in ons hart wees - tot op daardie dag dat Christus sal terugkeer en die Satan in die poel van vuur gewerp word.

Welgeluksalig is die man wat genade ontvang om vandag sulke voorrade op te bou.

Here, maak ons geestelike voorraadskure vandag vol vir die dae van gebrek wat sal kom.

*******************

Ds AJ van Wijk (Uit die Beek)*
*Met vriendelike samewerking van Lux Verbi. Lux Verbi se boeke is by alle goeie boekhandelaars, landwyd beskikbaar . Kan ook bestel word by www.luxverbi.co.za of deur 0861 668 368 te skakel.

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css