Die Weg

 

'n Bo-menslike opdrag?

"Wanneer julle in Kanaän kom, moet die land wat vir julle as besitting aangewys is, die volgende grense hê . . ".
Numeri 34:2.

In breë trekke omsluit die gebied wat verower moet word, se grense die streek wat volgens Numeri 13:22 omskryf is. In albei gevalle is Lebo-Hamat (v 8) die mees noordelike punt. Tien van die twaalf wat gestuur is om dié gebied te gaan verken, het gedink die Israeliete is nie daartoe in staat om dit te verower nie. En nou, veertigjaar later, kom dit as 'n opdrag van die Here. Julle land moet die volgende grense hê. Daarvoor moet die manne met die wapens sorg.

Maar ook hier geld wat ons gister gelees het. God gebruik mense, maar wat vir mense onmoontlik is, doen Hy. In hierdie oënskynlik onmoontlike onderneming deur slawe wat 'n mensegeslag lank in die woestyn rondgekamp het, sal die Here help. Alleen só word 'n bo-menslike opdrag wel uitvoerbaar en uiteindelik werklikheid.

Moenie terugdeins vir die Here se opdragte nie.

Dankie, Here, dat U alles moontlik maak vir dié wat glo.

**********

Prof AH van Zyl (Uit die Beek)*
*Met vriendelike toestemming van Lux Verbi. Lux Verbi se boeke is by alle goeie boekhandelaars, landwyd beskikbaar . Kan ook bestel word by www.luxverbi.co.za of deur 0861 668 368 te skakel.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css