Die Weg

 

Die Here werk deur mense

"Neem die land in besit en gaan woon daar, want Ek gee die land aan julle as besitting" . Numeri 33:53.

Baie, baie jare voor Moses se tyd het die Here vir Abram gesê dat die land Kanaän deur die Here vir altyd aan hom en sy nageslag gegee word (Gen 13:15). Dit sê die Here ook hier vir Moses (v 53). Moses moet dit vir die Israeliete gaan sê. Maar tog kry hulle die opdrag om die land in besit te neem. Dit beteken nie sommer net intrek en gaan woon nie, 'n soort plakkery in Bybelse tyd nie. Nee, dit het oorlog beteken.

Veg, dis wat hulle moes gaan doen. In Numeri 32:20 sê Moses dan ook vir die manne van Ruben en Gad: “Vat julle wapens . . . om te gaan veg”. En hulle onderneem om "te gaan veg" soos Moses gesê het (32:27). En geveg het hulle. Dit leer ons uit die boek Josua.

Ja, dis soos die Here werk. Met een veeg van sy Almagshand kon Hy Palestina skoongevee het vir sy volk. Maar Hy doen dit nie. Hy werk deur mense.

Elke mens het sy deeltjie om te doen, en wie dit doen, kan die seën van die Here op sy werk verwag. Die Here doen nie wat 'n mens se plig is nie. Die Here doen wat 'n mens nie vir homself kan doen nie: sonde vergewe.

Gebruik my, Here, en maak my gehoorsaam in my diens aan U.

Uit die Beek:1988*

Met vriendelike toestemming van Lux Verbi. Lux Verbi se boeke is by alle goeie boekhandelaars, landwyd beskikbaar . Kan ook bestel word by www.luxverbi.co.za of deur 0861 668 368 te skakel.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css