Die Weg

 

Geloof te midde van die storms

En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel? Matteus 14:31

Voel jy soms dat die stormwinde van die lewe jou laat spartel? Jy voel jy kan nie meer kop bo water hou nie.

Vandag ontmoet ons die dissipels. Alleen op die oop see. As ervare vissermanne het hulle geweet dat wind en die storms nou lewensgevaarlik geraak het. Hulle was paniekbevange. Jesus was nie daar nie - só het hulle gedink.

Hy het hulle egter heeltyd dopgehou, sonder dat hulle dit geweet het. Hy het hulle gesien en bo-op die berg vir hulle gebid. Vol ontferming kom Hy op die water na hulle aangestap. Kleingelowig wonder hulle of dit dalk 'n spook kan wees. Petrus herken sy stem, maar twyfel steeds: "Here as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom."

Dan is dit Petrus wat die stormwater binnegaan toe hy besef dat dit waarlik Jesus is. Terwyl hy sy oë op Jesus hou, bly hy bo-op die water. Toe hy afkyk en die stormagtige golwe en die sterk wind sien, begin hy sink. Hy steek sy bewende hand uit na Jesus en smeek om redding. Jesus red hom eers en bestraf dan sy kleingeloof.

Voel jy of jy gaan sink? Kyk dan voor jou. Jesus kom as 't ware op die water na jou aangestap. Bo-oor die golwe van jou lewe. Gee dit dan nie aan ons perspektief nie? Ons is so geneig om net soos Petrus net die golwe en die sterk wind raak te sien.

Ons leer vandag waarom ons soms paniekerig en bang raak - ons kyk in die verkeerde rigting. Ons kyk nie meer met 'n geloofsoog nie.

Ja, Jesus Christus, die Seun van God het jou nie vergeet nie. Kyk op! Sien sy reddende hand raak en sê: "Waarlik, U is die Seun van God" en moenie meer twyfel nie.

Ds CB Swanepoel

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css