Die Weg

 

God praat met my en jou!

“Deur God sal ek die woord prys; deur die HERE sal ek die woord prys”. Psalm 56:11

So juig Dawid in Psalm 56. Sy God is die Here God, wat is wat Hy is (Eks. 3 : 14). Die God van die verbond, onveranderlik in trou en barmhartigheid. Hierdie God spreek . . . spreek ook vandag nog met jou. As ons daaroor 'n keer goed nadink, is ons stil van verwondering. God spreek met my! Die allerhoogste Majesteit rig 'n woord tot my. In Sy Woord tril al die bewoë liefde van Sy Goddelike hart. Stel jou voor dat iemand wat in die openbare lewe 'n vername posisie beklee, iemand van aansien vir wie jy baie groot bewondering het, uit sy eie met jou sou praat. Sou jy nie opgewonde wees nie? Sou jy dit nie as 'n baie besondere eer beskou nie?

Maar dat God met ons praat - daaroor is ons glad nie so opgewonde nie. Dit is vir ons iets doodgewoon. Ons het grootgeword met die gedagte van 'n sprekende God, 'n God wat Homself openbaar. Jy het natuurlik 'n Bybel. En jy lees daarin, al is dit soms net uit plig. Sonder enige verwondering. Maar dit is tog iets wonderliks, iets groots, dat God spreek, dat Hy die Woord tot jou rig. Dit kon heeltemal anders gewees het. Ons het dit heeltemal anders verdien: ‘n swygende God, wat ons aan ons lot oorlaat.

Hoe dikwels gebeur dit dat jy jou niks van God aantrek nie, dat Hy vir jou niks beteken nie. Maar vir God beteken jý wel iets. Hy praat met jou. Hy tree met jou in verbinding. Hy buig Hom oor jou en sê: “Hier is ek!” Wat sê jy dan? Wat is jou antwoord op die Woord van God? 'n Brutale afwysing: “Laat staan my. Ek het nie lus om te weet wat U weë is nie?” Of die antwoord van geloof? “Spreek Here, U dienskneg - U diensmaagd - luister!

Lees jou Bybel so. Met 'n gelowige hart. Terwyl jy aandagtig luister na God wat spreek. Verwonderd. Dankbaar. Ontroerd.

Wees nou stil, oproerige hart. Wees tog stil en luister, want God spreek. Hy spreek tot my.”

Dr FE Hoekstra (Dagfinale)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css