Die Weg

 

Christus op die Areopagus

God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek. Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor. En so het Paulus van hulle weggegaan.

Maar sommige manne het by hom aangesluit en gelowig geword, onder wie ook Dionísius, die Areopagiet, was, en ‘n vrou met die naam van Dámaris en ander saam met hulle. Hand 17:30-34 (OAV)

Jy sien dit hier in Handelinge 17 feitlik voor jou oë gebeur. Hier staan Paulus dag na dag op die mark van Atene soos 'n regte koopman die evangelie aanbied aan elkeen wat maar wil luister! En na 'n ruk kom selfs die professore van die Universiteit van Atene en nooi hom uit om te kom klas gee oor 'n God wat hulle nie ken nie!

En die vreemdste ding wat hierdie amateur-professor vir hulle vertel is van “'n Man wat Hy (die 'onbekende God') aangestel het,” wat dood was - aan 'n kruis nogal! – maar wat nog steeds lewe. En daardie Man kom op 'n vasgestelde dag terug om die wêreld “in geregtigheid” te oordeel. Alle mense wat dan reeds gesterf het, sal opstaan en deur daardie Man geoordeel word. Kan jy dit glo?!

Wel, die meeste mense was te geleerd om dit te glo. Die Epikeneërs het in elk geval geglo in dit wat jy kan sien en hoor en voel, en die Stoïsynse wysgere het gereken dat jy die lewe maar moet vat soos wat dit is en maar so goed as moontlik jou plig moet doen, en verder hoop jy maar vir die beste.

En nou kom hierdie man en hy vertel van 'n oordeel en van 'n tweede kans om “in geregtigheid” geoordeel te word! Sommige van sy hoorders het dan ook begin spot met die dwaasheid: mens lewe mos maar net eenkeer en jy moet maar die beste of die lekkerste daarvan maak. Party was fatsoenlik: “Ons sal u weer daaromtrent hoor.”

'n Paar mans en een vrou het geglo dat Jesus lewe en het by Paulus aangesluit. 'n Teleurstellende resultaat, sou ‘n mens sê. Maar wat is ONS reaksie op hierdie opstandingsprediking?

Paulus se eie lewe het daardeur radikaal verander. Van 'n iesegrimmige vervolger van die gelowiges (Hand 9) het hy 'n blymoedige, verloste kind van God en 'n volhardende verkondiger van die lewende Heiland geword. “Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my”, sê hy later (Gal 2:20).

Laat ek eerlik wees: daardie totale oorgawe van my lewe aan Christus ontbreek dikwels nog by my! Ek het daar, veral in moeilike omstandighede nog 'n stryd mee. Trouens, Paulus was ook maar nie altyd so rustig oor sy lewe nie. “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Maar onmiddellik daarna weet hy nou: “Ek dank God deur Jesus Christus onse Here!

Dat Jesus lewe, beteken dat ek nie op myself en my geloofsvermoë aangewese is nie. Hy gaan stap vir stap saam met my. “Wandel maar rustig agter Hom aan. Hy gaan vooraan!”

Ds LH Stavast

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css