Die Weg

 

Die Silwer Rand aan die Donker Wolk

"Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my helper en my God!" Ps 42:12 en Ps 43:5 (NAV)

Hierdie twee psalms is klaarblyklik een. Let daarop hoe dieselfde refrein deur albei weerklink! Hulle kom uit daardie droewige tydperk in Dawid se geskiedenis toe sy geliefde seun Absalom, hom as balling oorkant die Jordaan uitgedryf het (2 Sam. 15: 14). Te midde van die groot smart wat hy ondervind het, was daar tog 'n silwer randjie. Drie maal moedig die psalmdigter homself aan om op God te vertrou.

Te midde van al die teleurstelling en wanhoop van die lewe is daar altyd een bron van vertroue en hoop - God! Ons mag tussen die wrakstukke van ons aardse verwagtinge staan. As gevolg van wangedrag of vergissing, dwaasheid of sonde, kan ons dalk onsself en ons dierbares in die uiterste ellende gedompel het. Nogtans kan die siel hom altyd uit die diepte van sy ellende tot God wend, met die sekerheid dat Hy genade sal bewys, menigvuldiglik sal vergewe en die onverbiddelike gety weer van hom sal afkeer.

So kan die gebrokenes van hart nog met God praat! Hierdie man het ernstige misdrywe begaan. Dit het gelyk of hy alle aanspraak op die erkenning en sorg van God verbeur het. Hy het oneer en skande oor die godsdiens gebring. Deur die jare sou die verhaal van sy wandaad die vyande van die Waarheid genoegsaam rede tot laster gee. En tog, kyk hoe waag hy dit om met God te praat! Hy beskryf Hom as die lewende God, as sy rots, sy helper, die God van sy toevlug, die God van sy jubelende blydskap.

Hier het ons 'n groot les! Ons mag verander, maar God verander nooit. Ons mag ons aangesig van Hom afwend of toelaat dat een of ander boosheid tussen ons en die helder glans van Sy aangesig indring. Hy skitter egter voort en wanneer ons ons sonde bely en aflê, bevind ons ons weer opnuut in die helder gloed van Sy ligtende strale. Jy mag dalk alle hoop in jouself, jou vriende, jou omstandighede verloor het, maar nooit moet jy jou hoop en vertroue in God verloor nie.

Die verlede, waaraan maar net met berou gedink kan word, is vergewe. In die hede is God gewillig om alles en in almal te wees. Die toekoms is daar wanneer jou siel Hom weer sal loof met jubelende blydskap. Hoop en vertroue kyk die toekoms in. “Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing.”

F.B. Meyer

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css