Die Weg

 

Biddende strategie lei tot saam bou

Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: "Kom ons bou!" en hulle het die goeie werk aangepak. Nehemia 2:18

Om ja te sê en om die werk te doen, is twee verskillende dinge. Nehemia se gebede is verhoor. Koning Artasasta het toestemming, asook koninklike briewe aan die goewerneurs, offisiere en ruiters gegee. Hy is veilig na Jerusalem. Maar dit was net die begin. Sy eie mense was neerslagtig. Daar was teenstand van die vyande. Tog moes die geweldige herbouwerk gedoen word.   

Nehemia was 'n Godsman, maar ook 'n goeie strateeg. Net drie dae na sy aankoms het hy die vervalle mure die nag saam met 'n paar man bespied. Só dat sy eie mense nie weet wat hy wou doen nie.

Toe doen hy verslag: "Julle sien self die benarde toestand waarin ons sit ..." En hy getuig: "Ek het hulle vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het..." En hy roep op: "Kom ons herbou die muur." Dan die wonderlike reaksie: "Kom ons bou!"

Is dit nie wonderlik nie? Dieselfde Nehemia wat dae lank gehuil het toe hy van die ellende van die volk gehoor het, kon reeds terugkyk op die seën van die Here. Nou gee die Here ook helpers vir die ontsaglike werk.

Hoe groot jou taak ook al is, hoe onmoontlik dit lyk om aan te pak, hoe klein jy ook al voel om dit te verrig - as jy seker is dat dit God se plan is wat jy uitvoer, gebruik jou talente biddend en God sal jou dra. Jy sal sien hoe Hy die regte helpers gee.

Vreugde in sy diens is die vrug.

(Nr 2 in ‘n reeks van 3 wat saam 'n groter geheel vorm)

Dr Callie Opperman
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css