Die Weg

 

In U lig sien ons die lig

Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig. Ps 36:10 (OAV)

Hoe sien jy die wêreld? Baie mense het 'n baie pessimistiese siening daarvan. Soos blare wat in die herfs afval en in die grond verteer word, só sien hulle die verloop van die wêreld. Dis 'n proses van verwelking wat deur niemand teëgehou kan word nie. Alles is besig om te verrot, die volke, die verhoudinge tussen mense, die samelewing, die lewe. Dit kan maar net slegter word. Die lewe en die wêreld sterf 'n winterdood. Ander, minder in getal, het 'n meer optimistiese beskouing, naamlik dat daar ná die winter 'n nuwe lente en 'n nuwe geluid sal kom. Maar die meeste mense het blykbaar 'n skeptiese blik: as die blare val, moet jy maar wag en kyk hoe kwaai die winter sal wees. Jy moet dit maar aanvaar soos dit kom, sê hulle; niemand kan iets daaraan doen nie. Jy moet maar met die stroom saamdrywe. Jy moet jou maar gewillig in die beweging laat opneem. Niemand weet waarop dit gaan uitloop nie. Jy moet maar die beste van die saak probeer maak.

Hoe arm en onbevredigend is dit nie as jy die wêreld en sy probleme nie anders kan sien nie: so pessimisties, optimisties of skepties. Hoe onbevredigend en arm is dit nie as jy jou eie lewe in hierdie wêreld so sien nie - soos 'n dwarrelende herfsblaar, jy weet nie waarheen dit gedryf sal word of waar dit tereg sal kom nie.

Gelukkig,  “In U lig sien ons die lig" - ook hierdie wêreld en sy probleme. Ons kan dit in die lig van God se Woord sien. Dit is die enigste manier waarop ons kan leer om dinge in die regte lig te plaas. So leer jy om gelowig te sien. Om dinge te sien soos God jou dit wil laat sien, dít gee jou die regte perspektief.  “Maak my voetstappe vas vir U woord” (Ps. 119:133).

Ds L Kuiper (Dagfinale)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css