Die Weg

 

Ware rus net by God

Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. - Psalm 62:5

Die digter van Psalm 62 is ongeëwenaar in sy kinderlike vertroue op God. Hy is ’n gebroke en moeë man. Valse mense probeer sy goeie naam afbreek. Hulle stel die posisie wat hy beklee, in gevaar. Maar hy vertrou ten volle op die Here en vind rus net by Hom! Hierdie belydenis uiter hy twee maal (vs 2 en 6).

Ons word vandag nie altyd meer letterlik vervolg en voortgejaag nie. Tog is ons dikwels ook soos gejaagde mense en ons lewe vol onrus. “Stres” is die woord wat almal gebruik. Dit is ook die oorsaak van baie kwale in ons lewe. Dink maar aan die geweldige toename in sielkundige afwykings en die voorkoms van depressie onder die moderne mens.

Net by die Here is daar waarlik rus. Ons het vrede by God deur ons Here Jesus Christus (Rom 5:1). Ons sonde staan nie meer tussen ons en die Here nie. Skuldgevoelens hoef ons nie meer op te jaag of voort te dryf nie. Ons mag rus vind in die vrede wat Jesus Christus vir ons bewerk het!

So verlaat ons ons heeltemal op die genade van die Here en vind daarin rus. Dit is ’n rus wat in ons hele lewe deurwerk. Niks kan hierdie rus blywend versteur nie, omdat ons weet dat niks ons sal skei van die liefde van Christus nie.

Ons moet hierdie rus telkens weer soek in gebed. As ons bid, lê die Here sy hand op ons en bring ons lewe tot bedaring. Hierdie rus is dan ook vir ons die bron van krag om elke dag vir die Here te lewe.

Dr. F van der Walt

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css