Die Weg

 

As eiendom van God

“Want die Here se deel is sy volk.” Deut. 32:9

 “Soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.” Efes 1:4

Ons word nie God se eiendom wanneer ons onsself aan Hom oorgee nie. Ons oë gaan dan net oop om te sien dat ons reeds syne is en besig is om dié lewenswyse aan te neem wat pas by hulle wat nie aan hulself behoort nie, maar duur gekoop is (1 Kor 6: 19,20). Moses besing in sy lied wonderlik mooi  die drie simbole van God se sorg vir ons:

 “Hy het hom bewaak soos sy oogappel” (Deut 32: 10).

Wanneer iets ons bedreig lig ons ons hand byna instinkmatig op om ons oë te beskerm. So is dit ook met die Here se sorg vir ons. Hoe sorgvuldig word die oog nie bewaar teen onreinheid en kwaad deur die sterk, benerige holte waarin dit geplaas is nie; deur die ooghare en wimpers wat die stof en as opvang; deur die ooglede wat daaroor toemaak en die traanwater wat dit uitspoel. So kan die siel wat God liefhet, deur die boosheid van die wêreld heen gaan sonder dat dit vuil of bevlek raak, as gevolg van Sy genadige bewarende krag.

“Soos 'n arend” (Deut 32: 11).

Wanneer die jong arende kan begin vlieg huiwer hulle gewoonlik bokant die nes, te bang om dit weg van die krans af te waag. Die moedervoël breek dan die huiweringwekkende tuiste op, verdryf die jong voëltjies die lug in, dwing hulle om hul vlerke te oefen.  Nogtans fladder sy onderkant hulle om hulle te vang as hulle dalk val en dra hulle op haar sterk vlerke totdat hulle alleen kan vlieg. So gebeur dit in die lewe dat God soms die gelukkige omstandighede waaraan ons sedert ons jong dae gewoond geraak het, moet opbreek en ons uitdrywe. Dit is egter vir ons eie welsyn, want alleen dán kan ons die heerlike krag deelagtig word van volgehoue vlug op die wieke van die wind.

Goddelike leiding (Deut 32: 12).

God leer ons om te “loop” soos 'n moeder haar klein kindjie;  “Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here” (Ps 94:18).

Die brief aan die Efesiërs gee ons 'n lys van die seëninge waarmee God, ons Vader, die besitter en liefhebber van ons siel, ons oorlaai. Hy wil hê dat ons dit vir onsself moet toeëien. (Efesiërs hoofstuk 1). Sy liefde vir ons is geen verbygaande gril nie, maar is die volvoering van 'n ewige doel. Hy verlos ons van die heerskappy van sonde; Hy wil alle genade oorvloedig oor ons laat wees; ons word bewaar en verseël deur die Heilige Gees en sal uiteindelik voor Hom gestel word sonder vlek of rimpel, tot eer van Sy heerlikheid.

FB Meyer
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css