Die Weg

 

Oppas, Satan doen ook wonders!

Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders en met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. 2 Tes 2:9-10 (NAV)

Dis ’n groot gerusstelling wat die Here ons in die eerste deel van hoofstuk 2 gee dat die Antichris, al gee hy selfs voor dat hy God is (vs 4) deur die heerlikheid en mag van die lewende Jesus uitgewis sal word.

Maar wat doen hy nou voordat Jesus by sy wederkoms hom vernietig? Die Antichris is die handlanger van Satan, die dier uit die aarde (Openb 13:11), die sataniese magte wat nie stilweg in die geheim met hulle misleidings besig is nie. Openlik word in die krag van Satan allerhande wonders en ook tekens gedoen wat mense daartoe moet mislei om van God afvallig te word.

Mense word deur hierdie gruwelike misleidings in die versoeking gestel omdat hulle “nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie”. Want geloof in Jesus Christus beteken nie net dat ek hemel toe wil gaan nie, maar dat ek van harte in liefde aanvaar dat Hy werklik die Here is oor my hele lewe.

Daar kom tye in ons lewe wanneer die pyn of hartseer of eensaamheid ondraaglik word en ander jou probeer wysmaak dat God jou vergeet het. Die duiwel en sy magte probeer dan, en ook wanneer ons voorspoed beleef, om ons in ons diens aan die Here te laat verslap en om ons te oortuig dat ons sonder God kan lewe.

Pasop! Moenie wag vir een of ander teken of wonder nie! Gryp jy maar net weer vas aan jou liefde vir die Here en die waarheid van sy Woord, soos daar aan die begin toe jy Hom leer ken het! Hy het jou die hele tyd nog lief!

Ds Nico Botha

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css