Die Weg

 

Op pad saam met God word die onbekende bekend

Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. (Hebreërs 11:8)

As jy moet trek, maak jy seker jy weet waarheen jy gaan vóór jy wegtrek. Van Abraham word getuig: “Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.” Hy het sy vaderhuis en vaderland verlaat en getrek – nie agter goeie weiveld aan nie, ook nie net uit avontuurlus nie. Was hy dan onverantwoordelik? Nee, God het hom geroep. Waarheen? "... na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys", sê die Here. Eers later sou hy hoor dié land is Kanaän.

Geloof is om God se leiding sonder aarseling te aanvaar, soos ’n kindjie aan sy pa se hand die donker instap. Al weet ek nie nou waarheen Hy lei nie, weet ek God is met my.

Jy wil soms so berekend en verantwoordelik die dinge beplan dat jy God heeltemal uit die plan uitskryf. Jy bid miskien nog daaroor, maar dan vergeet jy van die Here en gaan met jou eie beplanning op reis na môre. Om te glo, is egter om vir jou hemelse Vader te sê: “Hier is ek, lei U my.” Dan pas jou planne in by God se plan vir jou. Dan vra jy: “Waar roep U my heen om die beste in u diens te staan?”

Geloof is nie dobbel met die toekoms nie, maar geloof gee sekerheid. Met die Woord as jou lewensriglyn kan jy biddend besluite neem. Vertrou God, want saam met Hom word die onbekende bekend.

Waarom? Omdat die Bekende (Vader) saam met jou die onbekende ingaan.

Dr Callie Opperman

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css