Die Weg

 

Kom jy ook in?

Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie. Openbaring 3:8

Die mense van Filadelfia aan wie hierdie brief gerig is, was oorspronklik mense wat “buite” gestaan, en hulself sonder God in ‘n koue, donker wêreld bevind het.  Die eerste voorwaarde om binne te kán kom, is dat jy buite moet staan...en wéét dat jy buite staan.

Wat dit betref, kan die mense van ons teenswoordige wêreld ook maar binnekom. Hulle wéét ook dat hulle buite staan. Daarvoor het die wêreldgebeure van die 20ste en 21ste eeue goed gesorg. Die mense is benoud “daarbuite”. Benoud in die groot wêreld, waar die groot magte met hulle verwoestende wapens mekaar aangluur en waar politiek botvier.  Maar ook benoud in hul klein wêreld, met sy nood van gebroke huwelike, gesinsprobleme en ‘n eie bange hart. Wat ‘n wêreld! Wat ‘n lewe! Ons verstik almal daaraan.

Kyk, Ek het ‘n geopende deur gegee”. Wanneer ons eie deur toegaan, gee God Sy deur. Jesus Christus is God se deur in die donker skag van hierdie wêreld.  “Ek is die deur” – so toon Hy Homself vir almal wat deur hierdie lewe aangetas is. In Bethlehem is die deur net effens geopen, maar dit gaan verder oop, tot by Golgota waar die deur van God se liefde volledig oopmaak. Só volledig, só ruim, dat die nood van hierdie wêreld daardeur kan ingaan.

Ons hoef nie die deur te soek nie. Die deur is vlak voor ons. En dit is wawyd oop. Jy kan slegs maar deurstap. Midde in jou mees haglikste omstandighede tik Christus jou op die skouer en sê: “Kyk, hier is die deur. Ek is die deur. Kom binne, dit is koud daarbuite”.

Verwerk uit “De Stem Achter U” – Ds Gabe van Duinen
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css