Die Weg

 

In swaarkry steeds lewensbly

God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Romeine 5:1

Kan 'n mens jou werklik in swaarkry verheug? As jy glo, is dit wel moontlik. Omdat ek in Christus stewig in die liefde van God veranker bly, kan ek selfs in swaarkry nog lewensbly wees. Jy weet immers verseker dat God jou alleen uit genade vrygespreek en in Christus aan jou 'n nuwe lewe geskenk het. Jy weet dat jy vas en veilig in die liefde van God veranker is en eendag deel sal hê aan die heerlikheid wat God vir ons bestem het. Niks of niemand sal jou ooit van sy liefde in Jesus Christus kan skei nie!

God gebruik swaarkry dikwels juis om jou nog stewiger aan Hom te bind. Dis 'n leerskool waardeur jy gevorm word en waardeur jou geloof groei en verryk word. Swaarkry kweek volharding, egtheid van geloof en ware hoop. Jy leer om in volkome afhanklikheid van God geduldig uit te hou en aan te hou. Soos goud met vuur gelouter word, so word jou geloof daardeur getoets en gelouter. As dit die toets deurstaan het, kry jy nuwe moed en krag.

Deur sy Gees, wat Hy in ons harte uitgestort het, verseker God jou van sy ewige liefde en skenk Hy jou 'n vaste hoop en onblusbare vreugde. Dan weet jy nog sekerder as ooit dat jy sy kind is en dat niks of niemand jou ooit van sy liefde sal skei nie. Jou God het jou nie vergeet of verlaat nie, maar wil jou selfs nog stewiger in sy liefde veranker.

Juis dáárom kan jy te midde van swaarkry, lyding, siekte, aanvegting, verdrukking, vervolging of wat ook al, steeds lewensbly wees!

Ds. AJ Myburgh

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css