Die Weg

 

Sonde as bygeloof en ongeloof

... en vir die fyn goud gesê het: My vertroue! - Job 31: 24.
Wie op sy eie hart vertrou, hy is 'n dwaas. - Spr. 28 : 26.
... sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is ... - Luk. 18 : 9.

Absolute ongeloof bestaan nie in hierdie wêreld nie. Die mense dink soms so, maar dit is nie waar nie. 'n Mens wat op niks en niemand vertrou nie, is abnormaal. Ongeloof is tereg, volgens Rümke, 'n versteuring in 'n mens se geesteslewe. 'n Mens wat alle vertroue verloor, kom in 'n senuwee-inrigting tereg, omdat hy geen grond meer onder sy voete voel nie. Hy beland in 'n moeras - sonder vooruitsig, sonder steunpunt. En wie die geloof heeltemal verloor het, kan nog net soos 'n dooie stuk hout omval en bly lê. As hy van iewers anders tog nog 'n bietjie energie kry, kan hy daarmee net selfmoord pleeg.

Die vraag van beslissende betekenis is nou: waarop of in wie stel ons ons vertroue? Dit is van die allergrootste belang dat ons sal vertrou op dit wat vertroubaar is, anders sal ons uiteindelik met vertroue en al bedroë daarvan afkom. Wanneer ons ons vertroue stel in iets of iemand wat daardie vertroue nie werd is nie, is ons geestelik siek.

Die Bybel is die boek van radikale geloof en radikale ongeloof. Met talle uitsprake en illustrasies word ons op byna elke bladsy gewaarsku om tog nie ons vertroue te stel op wat in werklikheid geen grond, geen steun, geen uitkoms bied nie. En daar is net Een so 'n vertrouenswaardige: God in Christus. Wie in iets of iemand anders sy vertroue stel, is met 'n namaaksel besig, Ongeloof is altyd bygeloof, geloof wat op 'n verkeerde voorwerp gerig is. 'n Mens wat sê: “Ek glo nie,” vergis homself. In werklikheid glo hy ontsettend veel ~ maar hy glo verkeerd. Hy vestig sy vertroue op “sy eie hart”, op “fyn goud”, op sy gesondheid, op sy berekeninge (soos die ryk dwaas), of op sy eie regverdigheid (soos die Fariseër).

Dit is ontsettend dwaas om jou vertroue te stel op wat so onbetroubaar en wisselvallig is. Dit is ook ontsettend sondig omdat ons daarmee die eer wat aan God alleen toekom, aan 'n skepsel gee. 'n Skepsel kan nooit God se plek volstaan nie, bloot omdat hy 'n skepsel is.

Ons lewe is helaas in die praktyk ten barstens toe vol van hierdie bygeloof. Ons kan die arme dwase heidene skaars verwyt dat hulle hul vertroue op hout en steen, op vrugbaarheid en sterre vestig. Ons het dikwels afgode wat baie minderwaardiger is. Die allerergste is dat hierdie bygeloof soms in 'n godsdienstige gewaad verskyn, soos wanneer ons meer vertroue stel in ons eie vroomheid en godsdienstigheid as in Jesus Christus. Van beslissende betekenis is die inhoud van ons geloof. Dit mag alleen die Één Vertrouenswaardige wees: God in Jesus Christus. Elke sonde kan herlei word tot bygeloof, valse geloof. Mag Hy alle afgode verbrand, sodat Hy alleen in ons sal oorbly.

J Overduin (Venster op die lewe)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css