Die Weg

 

Weeg en kyk!

2 Kor 4:17 Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid.

2 Kor 5: 1Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.

Weeg en kyk. Dit is wat Paulus hier doen. Hy weeg eers. Hy weeg ons swaarkry in die lewe op teenoor die heerlikheid. Ons swaarkry weeg so swaar, voel ons. Die las is dikwels ondraaglik. Ons wil moedeloos raak en meegee onder die vrag wat ons moet dra.

Maar as ons ons swaarkry opweeg teenoor die heerlikheid, is daar nie eers 'n vergelyking nie. Die swaarkry is maar gering en gaan verby, en dan loop alles uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly! Dit klink bemoedigend, maar ons verstaan nie regtig nie, veral nie wanneer ons waarlik swaarkry nie.

Paulus verduidelik dit nou heel visueel. Hy wil hê ons moet kyk en dan sal ons verstaan. Ons kyk op twee maniere. Met gewone oë sien ons hoe ons ouer word en deur siektes en ander dinge afgetakel word. Ons liggaam is soos 'n tentwoning wat in wind en weer staan en verniel word en uiteindelik afgebreek word wanneer ons sterf. Hierdie lewe is tydelik en die afbreekproses is pynlik.

Ons moet egter nie gewoonweg kyk nie, maar met geloofsoë. Ons oog moet nie op die sigbare dinge gerig wees nie, maar op die onsigbare. En dan kyk ons verby die tentwoning en ons sien 'n vaste gebou in die hemel. Die woning is deur God gemaak en bly ewig staan. Jesus Christus is nou besig om vir ons daar plek gereed te maak.

Met sy lyding en dood het Hy nie alleen ons swaarkry draaglik gemaak nie. Hy het ons kinders van die Vader gemaak wat eendag, wanneer ons tentpenne uit hierdie wêreld getrek word, finaal sal oortrek na ons Vaderhuis met sy baie woonplek.

Met die geloofsoog op die ewige woning gerig, is ons vol moed oor die toekomspad wat voorlê.

Ds AL Pelser


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css