Die Weg

 

Sê my, Here: Waarom?

Psalm 10:1 - Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U U terug in tye van nood?

Hoor hoe vra die skrywer van Psalm 10: In kort, waarom speel U met my wegkruipertjie, Here? Hoekom is U in tye van nood, in krisistye as ek U die nodigste het, weg? Hoekom kan ek U juis dan nie kry nie?

Luister fyn na die psalmwoorde. Want wat vir my na God se afwesigheid lyk, is egter net die angs van my eie hart. Dit voel so, en dit waarvoor ek bang is, projekteer ek op God. Dus: nooit is ons Here regtig afwesig nie. Maar dit is die pyn van die krisis wat my laat voel asof die Here weg is. Met ander woorde, die Here voel net só ver soos die diepte en intensiteit van my krisis.

Maar meteens besef 'n mens dat dit die Man van smarte is wat sê:

"Moet dan nie bang wees nie,
julle is meer werd as die mossies ..." (Matt 10:31)

Die mossie, so waardeloos, dra die boodskap dat wat vir mense waardeloos en onbelangrik is, vir God waardevol en belangrik is. Want nie 'n enkele mossie val op die grond sonder dat ons Vader dit weet nie! En 'n mens weet: die Here speel nooit met 'n mens wegkruipertjie nie. Inteendeel, in my krisis en lyding is Hy daar. Meer werd as baie mossies. Ek is die bloed werd van die Seun van die Vader wat in ons plek gely het.

Maar indien 'n mens jou greep op God verloor, hoor dan:

"Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,
met my eie hand red Ek jou ..." (Jes 41:10)

Dankie, Vader, dat ek kan vra soos die skrywer van Psalm 10. Dankie vir u antwoord. Dankie dat U nooit met my 'n spel speel nie.

Dr Pieter Heystek (Almanak van die GKSA)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css