Die Weg

 

Die dood as grenssituasie

Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie. Ps. 23 : 4.

Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. IKor. 15: 54-57.

Iemand wat waarlik glo, is nie bang om by die grens van sy lewe te kom nie - nie omdat hy so dapper is nie, maar omdat hy gelowig vertrou op Jesus Christus wat hierdie bedreiging oorwin het. Jesus Christus het nie teruggedeins vir enige grenssituasie waarin 'n mens kan kom nie. Hy het almal oorwinnend deurgegaan. Daarom staan ons in geen situasie alleen nie. Soos die psalmdigter kan ons sing:

"Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie."

Miljoene sterwendes het met hierdie Psalm op die lippe getroos oor die grens tussen lewe en dood heengegaan. Want as God in die sterwensuur by ons is, is die lewe by ons! “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.” Ons hoef die angs vir die dood nie te probeer verdring nie:  geen morfien, geen roes, geen ontvlugting - want die dood is 'n oorwonne vyand.

Paulus gaan dieper op Ps. 23 in. Die doodsvrees is oorwin omdat die dood self oorwin is. 'n Ontwapende, oorwonne vyand hoef ons nie meer te vrees nie. Hy is nie meer gevaarlik nie. Hy kan selfs in diens van die oorwinnaar gestel word en nog nuttige werk vir hom verrig! Dit is presies wat Jesus op Paasfees met die dood gedoen het: dit oorwin en in Sy diens gestel. Die dood kom Gods kinders huis toe haal.

Daarom daag Paulus die sg. magtige dood uit. Hy roep triomfantlik uit: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” Die dood het nie meer 'n angel om ons te steek nie. Die apostel verduidelik dit as volg: Die dood is in sigself magteloos, maar dit het sy dodende krag van Gods wet gekry. Die sonde word naamlik eers as sonde aan die kaak gestel deur die wet van God. En sonde teen Gods heilige wet eis oordeel en straf. Deur die dood staan ons voor die groot wit troon van God. So het die dood deur die wet sy verskrikkende krag verkry. Verder is die dood nie net die liggaamlike dood nie, maar ook die tweede dood of die ewige verdoemenis. Juis daarom het Jesus die dood oorwin toe Hy die ewige straf wat ons verdien het, op Hom geneem het. Daardeur het Hy die karakter van die natuurlike dood verander. In plaas van 'n bedreiging wat ons voor Gods vierskaar bring, word dit 'n geleentheid wat ons na Christus toe dra.

Ds J Overduin – Venster op die lewe
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css