Die Weg

 

Selfbeheersing is die moeite werd

‘n Kalm gemoed hou die liggaam gesond; hartstog vreet ‘n mens op.
 -- Spreuke 14:30 --

Selfbeheersing kan kalmte in jou eie lewe bring, en dit kan mense rondom jou ook vandag tot kalmte bring. Iemand het by geleentheid gesê: "Wanneer jou emosies styg, dan daal jou intelligensie." Wanneer jy oorboord gaan, kan jy sekerwees dat jy skade gaan aanrig - skade aan jouself en skade rondom jou. Wanneer jy dwaas optree, dan verloor jy alle billikheid, keurigheid en smaakvolheid in jou taal en gedrag, en jy word onredelik en vernietigend in jou optrede.

Wysheid staan telkens teenoor dwaasheid. Wysheid spreek van die teenwoordigheid en die werk van die Gees van God in 'n mens se lewe. Daarteenoor is dwaasheid telkens 'n belediging van God - vers 31 ... "Wie 'n arm mens verdruk, beledig sy Maker."

WYSHEDE is gewoonlik geformuleer uit waarnemings wat gemaak is. Een waarneming wat die digter gemaak het, is dat wanneer 'n mens met kalmte en selfbeheersing optree, dan weerkaats selfs jou liggaam jou gebalanseerdheid. 'n Mens wat met wysheid, kalmte en bedagsaamheid optree, laat nie toe dat sogenaamde "stres" en spanning sy gesondheid verteer nie. Wanneer 'n mens oorboord gaan, dan raak dit jou hele menswees; die beeld van God word nie weerkaats nie, maar verduister. Alles ly daaronder. Onbeheerste hartstog is selfverterend. Terwyl ons ideale moet koester en met passie moet werk aan die verwesenliking van ons ideale, moet ons altyd daarteen waak dat ons ideale nie "idole" word nie ("idof'= afgod).

Die hartstogtelike liefde vir jou gesin en alles wat joune is, die passievolle najaag van jou lewensideale en drome, is alles onderworpe daaraan dat jy voortdurend sal bid dat die Heilige Gees deurentyd ook balans en selfbeheersing in jou lewe sal verwesenlik.

Dr Dick Steyn

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css