Die Weg

 

Die Here se stem laat die aarde bewe

Joël 3:16 En die HERE brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die HERE sal 'n toevlug wees vir sy volk en 'n skuilplek vir die kinders van Israel.

'n Aardbewing is 'n bewing of skudding van die aardoppervlakte. Aardbewings ontstaan gewoonlik as gevolg van rotsmassas wat beweeg en teen mekaar skuur by geologiese breuke in die boonste lae van die aardkors. Die soliede dele van die aarde beweeg stadig, dog voortdurend en aardbewings kom voor waar die spanning gevolglik te hoog word. Gewoonlik is die werklike beweging baie klein, bv, 'n paar millimeter of selfs minder, maar dit gebeur so skielik dat die uitwerking op die oppervlakte chaoties kan wees. Wanneer 'n aardbewing aan 'n kuslyn of onder die see plaasvind, kan daar 'n reuse getygolf, of tsoenami, ontstaan.

Vir seker kan ons hierin die hand van die Here raaksien. Hy het immers aan sy dissipels gesê dat juis aardbewings en oorloë van die verskriklike dinge sal wees wat sy wederkoms voorafgaan. Dit is dus die Here wat die aarde laat bewe.

Matteus 6:6-8 – “Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander, daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees. Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

'n Deel van die rede waarom die persepsie kan ontwikkel dat aardbewings nou erger is as tevore, is dat die 2004-Sumatra-aardbewing die tweede sterkste aardbewing is wat nog gemeet is, en dat daar soveel lewensverlies en skade in Haiti was. Die Sumatra-aardbewing het 9,3 op die Richterskaal gemeet, terwyl die sterkste wat gemeet is 9,5 was, toe 'n aardbewing in 1960 Valdivia in Chili getref het. Die derde grootste aardbewing was in 1964 in Alaska toe 9,2 op die Richterskaal gemeet is. Die vierde grootste het in 1952 in die ooste van Rusland voorgekom, en 9 gemeet.

En nou het die tragedie in Japan gevolg na 'n meting van 9 op die Richterskaal en daarby 'n verskriklike tsoenami.

Volgens die slim mense is daar bykans 9 000 aardskuddings per jaar oor die hele aarde. Om dus soos party Skrifuitlêers te beweer daar is vandag baie meer aardbewings as 'n paar honderd jaar terug, is om iets in die Bybel in te lees wat daar nie gesê word nie. Jesus sê regtig nie vir sy dissipels al hierdie slegte natuurrampe gaan meer word, soos wat party mense beweer nie. Hy sê slegs dit gaan orals in die wêreld plaasvind - dit is die teken DAT Hy kom, nie wanneer Hy kom nie.

Natuurlik sal ons vandag van meer aardbewings bewus wees as 'n honderd jaar terug omdat ons beter wetenskaplike apparaat het om dit mee te meet, en omdat daar steeds meer lewensverlies by betrokke is. So is die stad Korinte byvoorbeeld al in die sewentiger jare van die eerste eeu deur 'n reuse aardbewing grootliks vernietig.

Jesus se woorde sê vir ons, die einde is naby. Net soos wat slegte gebeure al vir die dissipels 2 000 jaar gelede gewys het hierdie wêreld gaan nie vir altyd bestaan nie, sê dit nog steeds presies dieselfde vir ons. Ons is maar net pelgrims hier op moederaarde. Dis nie ons ewige tuiste nie. God se kalender sê ons dis nie meer lank nie, dan is alles hier op aarde oor en verby. Kyk maar net rondom jou na die vernietiging van die skepping, na al die rampe en katastrofes rondom jou, dan besef jy dit.

Terwyl ons harte ineenkrimp oor die pyn en lyding van mense tydens rampe soos dié nou daar in Japan, is daar egter ook vir die gelowiges een groot troos: Die Here Jesus kom! Hy is oppad. Hy laat sy stem hoor! Ons hoor sy naderende voetstap in die gedreun van die aarde, En ons kan onsself betyds voorberei.

Dit is Hy wat alles kom nuut maak. 'n Nuwe hemel en 'n nuwe aarde. 'n Nuwe Jerusalem, Sy kerk gewas in die bloed van die Lam. En God wat in ons woon.

In ons hartseer en trane dus: Maranata! Kom Here Jesus, ja, kom gou! 

Ds Maarten van Helden
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css