Die Weg

 

As jou byl stomp is .....

As die byl stomp is, en nie geslyp word nie, moet jy meer krag gebruik. Dit is beter om jou verstand te gebruik.
-- Prediker 10:10--

Hierdie interessante spreuk uit die alledaagse lewe tref diep in ons alledaagse menseverhoudinge. Daar waar woorde seermaak omdat jy nie weet wat om te sê nie, val daar soms harde woorde. Selfs skelwoorde en vloeke sal gebruik word om jouself in 'n argument te probeer handhaaf. Jou stomp byl kap net harder en rig nie veel uit nie.

Geweld word soms selfs by mense die uitweg om die geveg nie te verloor nie. Die Prediker stel dat jy liewer jou verstand moet gebruik! Slyp die byl. Oefen jouself in jou gespreksvermoëns. Leer takt en selfbeheersing aan, wat immers die "vrug van die Gees" is ( Gal 5:22).

'n Sagte antwoord keer die grimmigheid af.  Stilbly is soms die heel beste antwoord! Maar dan moet jy dink voor jy praat. Gebruik liewer jou verstand en slyp jou byl. Onthou,die tong is 'n gevaarlike instrument, maar as jy dit verstandig gebruik, kan jy bou aan goeie menseverhoudinge. As jou tong jou dus gereeld laat struikel, bid dan tot die Here vir wysheid (Jak 1:5). Hy sal jou lei en sy genade sal ook in jou woordeskat na vore kom, sodat jy jou woorde sal weeg en tel, om meer opbouend te wees. En oefen jouself deur hierdie wysheid, deur reeds met jou eie mense, jou naby-mense, verstandig op te tree. Dan sal jy dit ook steeds meer regkry met buitestanders en vreemdelinge!

Ds Maarten van Helden
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css