Die Weg

 

Leer wysheid by die kleintjies in die skepping

“Daar is vier goed in die wêreld wat klein is maar buitengewone wysheid het: ...” (Spr 30:24).

“... ’n geitjie kan jy met die hand vang en tog kry jy hom in koninklike paleise.” (Spr 30:28).

Wat kan ons tog by ‘n klein grys diertjie leer? Die geitjie is so klein dat jy dit met die hand kan vang. Tog kry jy hom in die koninklike paleise. Daarom dat die Wysheidsleraar ons aandag vestig op sy buitengewone wysheid.

Hy is vol waagmoed. Hy laat hom nie afskrik deur die gewapende wagte en veiligheidsmaatreëls nie. Dit beteken nie dat hy wetteloos is nie, maar dat hy - al is hy so klein - in die mees gesogte plek in die land kan kom. Daar waar ’n mens spesiale toestemming moet kry om in te kom. En hoe kom hy daar? Deur met sy pootjies met fyn toon-haartjies teen die mure, en selfs onderstebo deur die nouste gleufies te glip. Klein is die geitjie, maar moedig, waaghalsig. Hy gebruik die vermoëns wat die Skepper aan hom gegee het.

Die tingerige geitjie wat deurglip tot in die koninklike paleis, tree met wysheid op om te kom waar hy wil wees. En hy is suksesvol, meer suksesvol as wat mense soms kan wees. Sy sukses word nie bepaal deur hoe groot hy is nie, maar wie se raad hy volg. Hy tree op volgens die instink wat sy Skepper hom gee.

Wie is jou raadgewer? Jyself? Wil jy groot wees, wil jy self besluit? Dink jy om met groot vertoon die belangrike mense van die wêreld te beïndruk? Nee, bly nederig, maar wees vol waagmoed. Wees klein in die oë van die wêreld, klein voor God, maar dapper in die aanvaarding van die uitdagings van die lewe. Dapper en moedig, omdat jy jou laat lei deur die wysheid wat van God kom.

Leer by die klein diertjies van Spreuke 30 wysheid. Ons bestaan is ’n lewe van stryd. ’n Stryd om oorlewing. En die stryd word gewen deur wysheid en nie deur groot in die oë van die mense te wees nie. Wysheid is om te doen wat vir die Here aanneemlik is. Laat jou lei deur die wysheid van die Gees, soos die diertjies deur instink optree. Verset jou nie teen God se wil nie. Dis dwaasheid en dan sal jy geen geseënde sukses in die lewe behaal nie.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css