Die Weg

 

'n Minnelied van jou Bruidegom

Hooglied 4:1-8
Romeine 8:31-39

U sou seker saamstem dat hierdie woorde darem soms so bietjie vergesog kan klink: 

"ALLES aan jou is mooi, my liefling, aan jou is NIKS verkeerd nie"! (4:7)

Ag hoe blind is die liefde tog! As jy ietwat langer getroud is, klink sulke woorde miskien nog meer vergesog, want jy ken jou maat immers al soveel jare. En tog hier het ons te make met die minnelied van 'n jong bruidegom wat sing oor sy aanstaande bruid. 

Hy moet wraggies baie verlief wees, om so blind te wees.  En hy kyk na haar en sien haar van kop tot tone en alles is mooi! Haar oë so opreg soos duiwe, haar hare so mooi, haar tande, haar lippe wat hom bekoor… Die liefde neem van hom besit en voer hom in hartstog weg na die gevleuelde woorde van die poësie.  Die ware liefde is immers blind!  "Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles"(1 Kor 13). In sy hartstogtelike liefde kyk hy verby die foute en sien net skoonheid en lieflikheid raak.  

So ook die liefde van die Here. Sy liefde vir ons as sondaars!

Hy kyk na ons deur die bloed van die Seun wat vir ons sondes ten volle betaal het,…. "want niemand het groter liefde as dit nie…".  En duurgekoop… word ons sy bruid! Die bruidskat is volledig betaal.  Die losprys was sy lewe, wat Hy in die grootste smarte vir ons opgeoffer het. Dit het Hom bloedsweet gekos en lyding en smarte, ja die dood van die vervloekte kruis.

U moet vandag en elke dag probeer om deur sy oë na jouself te kyk: Gewas in my bloed is jy skoon, o so skoon en rein.  Geen vlek of rimpel van die sonde voor God my Vader nie.  Geen oordeel of veroordeling meer nie!  Dit is die evangelie wat u vandag in u eie hande mag neem, as u waarlik in Jesus Christus glo. 

Hoor dan sy minnelied, vir jou en my, sy aanstaande bruid:  Jy is mooi my liefling, aan jou is niks verkeerd nie! 

Natuurlik sal die duiwel jou aanhoudend aankla.  Jy kan egter al jou selfverwyt begrawe en met ‘n skoon gewete voor God leef. Dan antwoord jy vrymoedig: Gaan weg Satan. Ek is die bruid van Christus.  Hy het my lief… en niemand het groter liefde as dit nie!   Ek is skoon, en pragtig en rein voor God.  

Ds Maarten van Helden

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css