Die Weg

 

Om die Here te vergeet

‘n Stem is gehoor op die kaal heuwels, smekende geween van die kinders van Israel, omdat hulle hul weg verdraai het, die HERE hulle God vergeet het.” - Jeremia 3:21 (53-vertaling).

Professor Johan Huizenga skryf soos volg in sy boek: “In de schaduwen van morgen ” (1935): “Ons lewe in 'n dolle en besete wêreld, en ons weet dit. Dit sou vir niemand onverwags kom as die waansin eensklaps sou uitbreek in raserny, waaruit die arme Europese mensheid agterbly in verstomping en verdwasing, terwyl die motors nog draai en die vlae nog wapper, maar die gees gewyk het. Orals is daar twyfel aan die maatskaplike stelsels waarin ons lewe, 'n vae angs vir die nabye toekoms, gevoelens van verval en ondergang van die beskawing....... Die feite oorstelp ons. Ons sien voor ons oë hoe byna alle dinge wat eenmaal vir ons heilig was, wankel: waarheid en menslikheid, rede en reg. .....  dit is wel nodig dat ons, wat nou lewe, terdeë rekenskap sal gee van hoever die verderf wat ons bedreig, reeds voortgegaan het.''

Ernstige woorde, nie waar nie! As ons na die wêreld in sy geheel kyk, sien ons 'n neerdrukkende, rampspoedige en ontmoedigende verskynsel. Ons sien hoe menslikheid ontaard in dierlikheid.

Waarom nou dié ontsettende toestand! Omdat die nasies van die aarde die Here hulle God, vergeet het. Wat beteken dit om God te vergeet? Dit is om te dink en te voel en te handel asof daar geen God bestaan nie; doof te wees vir sy roepstem en eenvoudig jou eie gang te gaan, jou eie baas te wees, jou eie wil te doen; te lewe asof daar geen God is met wie jy moet rekening hou nie. Maar die nasies wat God vergeet sal self vergeet word, en sal hulself dompel in ellende en ongeneeslike smart (Jes 17:10-11).

Hoor die Woord van die Here! Uit die geskiedenis van die ou nasies van die wêreld is daar 'n ontsettende les te leer wat die Bybelse waarheid bevestig. Vanuit die verlate puinhope van stede wat eens magtig was, maar nou vergeet is, kom die boodskap tot ons oor die nasies wat God vergeet het. Elke puinhoop of verlate bouval van die verlede verkondig luid aan ons die boodskap oor volksonde en volksoordeel. “Die loon van die sonde is die dood;” en “wat die mens saai, sal hy maai.

Babilon het geval toe sy koning Belsasar en sy vorste 'n feesmaal gehou het. En van tyd tot tyd verskyn aan 'n nasie wat God vergeet, die hand op die muur wat skrywe: “Geweeg en te lig bevind!” (Dan 5:27). Oordeel en verwoesting oorval die nasie wat in sonde en ongeregtigheid lewe. Dit is die les uit die ou geskiedenis: die nasies wat God vergeet, sal vergeet word. Dink aan Griekeland, Rome en so meer.

O volk, hoor die Woord van die Here!”

Hoe staan dit met ons? Ons kan uit die geskiedenis van ons volk nie die krag en vormende invloed wegredeneer wat daar van ons godsdiens uitgegaan het nie. Daarin was die krag van ons voorvaders. Die Bybel was nie net 'n gelese boek nie, maar God se voorskrifte was bindend en gesaghebbend. Tog val al hoe meer dinge weg en vind allerlei onchristelike praktyke hulle ingang by ons. In boeke en films word misdaad verheerlik en skandes word goedgepraat en weggelag. Die menslike liggaam word uitgebuit wat aanleiding gee tot 'n gees van ligsinnigheid. Die kieme van onsedelikheid word kwistig versprei. 

Ons wil nie luister nie. Van alle kante aanskou ons 'n opstand teen God. Oral word uitgeroep: Laat ons Sy bande verskeur en Sy toue van ons afwerp! Daagliks word die Christus van God onttroon, beledig, verjaag en gehoon! Die mens wil vry en onafhanklik van God beweeg en leef. Mense lag oor die Bybel en spot met die godsdiens. Hulle leef asof daar geen ewigheid is nie en hol maar net voort!  As die basuin vandag sou blaas, wat sal van jou en my word? Wat sal van die mensdom van die wêreld word?

Is ons gereed om God te ontmoet? Dit is verskriklik om daaroor te dink. Nogtans is dit werklik die geval dat die mensdom, in die huidige gedrang van besigheid en wêreldse vermaak, hulleself nie die tyd gun om hieroor na te dink nie. Die langsame maar tog sekere vervulling van God se Woord word uit die oog verloor. Helaas, daar is by ons nie die tyd of die lus om ons met die dinge van die ewigheid besig te hou nie, ons het net tyd vir die tydelike.

Ons moet erken dat ons hopeloos afgedwaal het van die weg wat tot saligheid en ewige geluk lei, en dat ons ver is op die pad van verderf. Ons kan die feit nie wegredeneer nie, want ons eie handel en wandel getuig teen ons. Waar is die tradisies van ons voorouers, waar is die lieflike voorbeelde van godsdienstigheid, selfrespek en broederlike liefde? Ons het hulle almal geoffer op die altaar van ons nuwe lewe, die lewe van Sataniese welluste, vermaaklikhede en begeerlikhede. Ons word saamgesleep met die stroom van onheil, en die Reddende Hand wat ons toegereik word, neem ons nie aan nie. Ons is magteloos in die boeie van die Satan. Waarom dan magteloos? Omdat ons God en sy gebod die rug toegekeer het. Ons is liefhebbers en aanbidders van onsself.

Kan ons ooit genade van God verwag in hierdie toestand! Kan ons in hierdie toestand voor die Regterstoel van God verskyn om sy oordeel te ontvang? Sal ons onsself kan red en help? Ons tyd is kort, die uur van afrekening is voor die deur. Die einde van alle dinge is naby.

Ons leef in 'n moeilike en ernstige tyd, 'n tyd vol beroering en verwarring; 'n tyd waarin materialisme en ongeloof hand aan hand toeneem. Dit alles dring ons tot erns, tot diepte, tot volharding in die goeie. Elkeen word opgeroep tot die stryd, om nie alleen verdedigend nie, maar ook aanvallend op te tree en vas te staan tot die einde toe. Hou rekening met die feite van die lewe. Moenie droom nie, maar wees wakker en werk solank dit dag is. Dié wat vir die Here en sy saak stry en ly, sal oorwin.

Daarom hoef God se volk ook nie bang te wees nie. Al mag vervolging swaar op hulle druk, hul verlossing is naby. Hou dan vas wat jy het en staan vas, gewortel en gegrond in die genade van Christus. Na die donker nag breek die helder môre van sonskyn aan. Laat ons al ons kragte by God se kant ingooi. Al is jy alleen met Hom, is jy in die meerderheid. Te midde van die godvergetelheid, verwildering, nood en krisis, vervloeking, ontaarding en afval, hef ons saam die geloofslied aan:

Ek weet aan wie’k my toevertrou het,
Al wissel dan ook dag en nag;
Ek ken die Rots op wie’k gebou het,
Van wie ek al my heil verwag.

Uit: Die Blye Boodskap, deur ds TFJ Dreyer (verwerk).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css