Die Weg

 

Hy gee my 'n toekoms

U het my gevorm,
my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.
Ek wil U loof,
want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering.
Dit weet ek seker:
geen been van my was vir U verborge
toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie,
toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.
U het my al gesien toe ek nog ongebore was,
al my lewensdae was in u boek opgeskrywe
nog voordat ek gebore is.
Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God,
hoe magtig hulle almal!
As ek hulle sou wou opnoem –
hulle is meer as wat daar sand is,
en as ek daarmee klaar is,
sou ek nog steeds met U te doen hê.

- Psalm 139: 13-18.

Die kinders speel buite. Een tel terwyl die ander weghardloop om die beste wegkruipplek te soek. Net die kleinste bly staan. Hy sit sy hande voor sy oë en dink: “Niemand sien my nie, niemand sal my kry nie.”

Ek glimlag vir hierdie kinderlike gedrag, maar sien myself ook daarin. Daar sit ek met my hande oor my oë, want ek is ontsettend bang. Dit lyk of alles uit my hande glip – my gesondheid, my werk, my vriende, my lewe – en ek dink: niemand sien my raak nie!

Die dokter sien wel my simptome en heel waarskynlik die oorsaak daarvan. Die radioloog sien dieper. Hy ontdek ook verborge gewasse wat nie van buite sigbaar is nie. Maar niemand sien hoe ek ly nie, niemand sien wat ek in my binneste mis nie. Niemand sien my innerlike nood raak nie.

Hagar het ook so gedink. Hagar, die Egiptiese slavin, het haar meesteres Saraï lank gedien. Nou moes sy ook as surrogaatma dien om vir Abram 'n nakomeling te verwek volgens wat God beloof het (Gen 16:3). As sy sien dat sy swanger is, verander Hagar se houding teenoor haar meesteres – sy beskou haarself as meerderwaardig teenoor Saraï. Saraï, aan die ander kant, reageer seergemaak en is jaloers. ’n Magstryd begin en Hagar vlug die woestyn in. Wat sal sy nou doen? Is daar nog 'n toekoms vir haar? Vertwyfeling neem besit van haar. Vrees vir die meesteres en woede voer stryd in haar en niemand is daar om haar te help nie. Sy is moedersielalleen, ver van haar mense en haar land. “Niemand sien my nie” dink sy.

Tog – Iemand sien! God self sien Hagar in haar leed. Hy roep haar op haar naam. Hy ken haar. Hy sien haar verkeerde optrede in haar verwaandheid maar help haar om die volgende stap te neem. Hy sê: “Daar is 'n toekoms vir jou, Hagar!” Hagar kan haar net met dankbaarheid hieroor verwonder. Sy erken: “U is 'n God wat my sien!

Verstaan ek dit? God sien my! Vir Hom is ek nie net 'n ingewikkelde mediese rekord nie. Vir Hom is ek 'n waardevolle, geliefde persoon. Ek is vir Hom belangrik, oneindig belangrik! Kan ek dit begryp?

God kyk na my! Hy sien my siekte, my gebreke, my ontsteltenis. Hy sien nog dieper. Hy sien die skade aan my siel, my mislukkings, my skuld. Moet God nie dikwels in skaamte wegkyk nie? Nee, dit is nie vir Hom belangrik nie. Hy lei my na die regte pad, Hy wil my rigting gee. Laat ek dit toe?

God kyk verder! Miskien sien ek in my situasie geen toekoms meer nie. Ek het geen perspektief op die lewe meer nie. Ek het my hoop op 'n nuwe môre opgegee. God sien verder. Hy gee my 'n toekoms. Ja, met Hom het die toekoms reeds begin, want hy genees my sielestryd. Hy dra my deur my siekte en nood.  Hy kyk na my en Hy het alles gedoen om my eendag in sy ewige huis op te neem. – Wat ’n toekoms!

Uit: Und doch bei dir geborgen, Ermutigungen für schwere Zeiten, deur Andrea Eißler
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css