Die Weg

 

Selfbeheersing as vrug van die Gees

“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is ... selfbeheersing ...” - Galsiërs 5:22-23.

Selfbeheersing is die woord wat Plato gebruik het om heerskappy oor die “self” te beskryf. Dit is 'n persoon wat sy eie begeerte en liefde vir genot kan beheers. Paulus bring dit in verband met die atleet se liggaam: “Almal wat aan 'n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om 'n verganklike oorwinnaarskroon te verkry...”(1 Kor 9:25) en die Christen se heerskappy oor seksuele losbandigheid: “Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word.” (1 Kor. 7:9). Die Grieke het dit beskou as die deug van 'n keiser wat nooit sy private belange laat indruis het teen sy amp as regeerder nie. Dit is die vermoë wat 'n mens in staat stel om só meester oor homself te wees dat hy geskik is om 'n dienskneg van ander te wees.

Dit was Paulus se ondervinding en geloof dat die Christen wat saam met Christus gesterf het en opgestaan het tot 'n nuwe lewe, al die heerlike dinge van die Gees as vrugte te voorskyn bring.

Selfbeheersing sluit 'n hele reeks van morele dissiplines in. Die gebrek aan selfbeheersing was die oorsaak van vele tragiese rampe in mense se lewens. Die boek Spreuke stel vir ons die wette van die hemel vir ons lewe op die aarde voor oë: “'n Geduldige mens het meer waarde as 'n bedrewe vegter, 'n mens met selfbeheersing meer as iemand wat 'n stad inneem.” (Spr 16:32) en “'n Stad sonder 'n muur om hom te beskerm, so weerloos is 'n mens as hy nie selfbeheersing het nie.” (Spr 25:28).

Die deug van selfbeheersing oefen sy invloed uit oor ons totale karakter en optrede. Dit is die kaptein aan die roer, wat die weerlose skip op koers hou deur die storms en golwe, en voorkom dat dit voortdryf na selfvernietiging as slagoffer van die elemente. Die toppunt van edelmoedigheid is selfbeheersing.

Uit: 'n Rusplek langs die pad, deur Solly Ozrovech (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css