Die Weg

 

Vervolging

Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” – 2 Timoteus 3:12.

Sondag 6 November is afgesonder as Internasionale Biddag vir die vervolgde kerk. Die bedoeling is dat ons mekaar as gelowiges oproep om nie van ons broers en susters wat weens hulle volharding in die geloof swaarkry, te vergeet nie. Die ‘lyding’ waarna die Bybel gereeld verwys, is nie maar net die armoede of siekte wat ons dikwels oorkom nie, maar eerder die aanslag op die lewe van hulle wat glo. Volgens die bostaande teks is dit een van die dinge wat noodwendig die getroue kerk van die Here sal oorkom. As ons dus die voorreg van vryheid van aanbidding geniet, moet ons nie in ons gerief en gemaksones van die gelowiges wat in ander plekke waar daar vervolging is, vergeet nie.

Vervolging van gelowiges was in die geskiedenis deel van die swaarkry van die kerk onder die Romeinse bewind en later weer die Protestante (die aan Hugenote, ens) onder die vervolging van die Roomse Kerk! Deesdae is daar egter ‘n geweldige toename van die openlike en blatante vervolging van die kerk in baie lande in die wêreld. Volgens Geopende Deure se waarnemingsverslag is daar reeds 12 lande in Afrika wat onder die 50 lande tel waar die vervolging van Christene die ergste en gevaarlikste is! (kyk gerus onder opendoors.org.za)

Die bedreiging van ons geloof kom dus stadig maar seker nader en moet ons nie op ons louere sit nie, maar onsself en veral ons kinders voorberei om gereed te wees as sodanige blatante vervolging ook deel van die kerklike lewe in SA sou word. Wat egter netso gevaarlik kan wees is die subtiele aanslag op ons en veral ons kinders. Die Antichris is aan die kom, en die hele wêreld wil homself vir sy verskyning gereed maak. Hy sal die kerk so vervolg dat dit selfs lyk asof hy gaan oorwin.

In 2 Tessalonisense 2 lees ons egter: “en dan sal die wettelose self op die toneel verskyn. Maar wanneer die Here Jesus kom, sal Hy hom met die asem uit sy mond verdelg en deur die glans van sy verskyning vernietig.”

Dit blyk dus dat die vervolging van die kerk ook deel is van die tekens van die tyd, die tyd dat Jesus Christus as oorwinnaar finaal weer op die wolke sal kom om sy kinders te kom haal en ons vir ewig van die gebrokenheid en vervolging te verlos. Laat ons dus op ons hoede wees vir die aanslae van die wêreld, maar ook gereed wees vir die wederkoms wat op hande is. En hou aan om te bid vir hulle wat ter wille van Christus ly!

Ds Maarten van Helden (Centurion)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css