Die Weg

 

God is Liefde

God is liefde! lees ons in 1 Johannes 4:8,16. Liefde is nie ‘n eienskap van God nie, maar dit is Wie God is. Hy is totaal en al liefde. God se wese is liefde. God se liefde is egter volmaak want God is volmaak. Alles wat God doen doen Hy uit ‘n hart van liefde.

Soms het ons vrae omdat alles op aarde nie so goed en glad en mooi verloop as wat ons graag wil hê nie. Dan word daar maklik gevra: “Is dit hoe ‘n God van liefde slegte dinge toelaat?” Ons vra dit omdat ons nie God se liefde verstaan nie. Ons erken egter nie maklik nie dat óns nie volmaak is nie, dat óns die oorsaak is van die gemors op aarde. Dit is óns wat dikwels liefdeloos handel teenoor ons medemens, ja selfs teenoor ons man of vrou of kinders of familie. Steeds wil ons egter die slegte dinge voor God se deur lê asof God die bewerker is van die slegte. Tog is God se liefde in Jesus Christus alles omvattend.

Ons lees in Efesiërs 3:17-19 dat ons liefde moet verstaan soos dit in Jesus Christus se liefde geopenbaar is. Jesus Christus het in volle gehoorsaamheid aan sy Vader vir ons aan die kruis gesterf. Hy het ten volle betaal vir al ons oortredinge en vir al ons sondes. Daarom kan ons net verstaan wat liefde werklik is as ons die versoeningswerk aan die kruis verstaan.

Nooit het God alles net goedgekeur wat die mens doen nie. Hy het ook die volk Israel gestraf vir hulle oortredinge. Hy het Homself geweldig vertoorn oor Israel se sondes en daarom is hulle in ballingskap weggevoer. God se liefde is egter so groot dat Hy barmhartigheid en genade in Christus aan ons betoon het. Hy het die Heilige Gees gestuur om ons te lei. Hy het die Woord gegee sodat ons daardeur God en sy wil kan leer ken.

Efesiërs 3:19: “Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

Ds. Gerrit Kruger, Centurion
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css