Die Weg

 

Neem Jesus Christus aan!

Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.” - Kolossense 2:6-7.

God het ons eerste as sy kinders aangeneem. God het ons geskape, gemaak, aan ons die lewe gegee in die moederskoot. Toe ons dit nie waardeer het nie en van Hom wou weggaan, het Hy sy Seun, Jesus Christus, gestuur om in ons plek aan die kruis te sterf. Daardeur het God ons duur gekoop met die bloed van sy eie Seun. Maar nou eindig dit nie daar nie.

Ons moet ook Jesus Christus as ons Here aanneem. Hierdie aanneming is die gevolg van wat God eerste gedoen het. Elkeen wat die blye evangelie gehoor het, en daaroor dankbaar is, moet in geloof Jesus Christus aanneem. 

Paulus skryf hierdie brief aan die Kolossense om hulle opnuut aan te spoor en aan te moedig om nie in hul geloof te stagneer nie, maar om te groei in die geloof. Want geliefdes, in die Christelike geloof kan jy nooit stilstaan of stagneer nie.  As jy nie groei en toeneem in kennis en geloof en in jou verhouding met God nie, dan gly jy geleidelik agteruit. Dan lei dit daartoe dat jou verhouding met die kerk, kerkgang, Bybellees, bid, en die sakramente van die doop en die nagmaal nie meer vir jou betekenis het nie. Uiteindelik gaan jou geloof in God ook daaronder ly.

Ons lees ook hiervan in Hebreërs 6:1-8: “Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap. Ons wil nie opnuut die fondament lê deur te praat oor die bekering uit 'n leefwyse wat tot die dood lei nie, of oor geloof in God, die leer van die doop en die handoplegging, die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie. Ons sal dus verder gaan as God dit toelaat. Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot 'n bespotting. Dit is soos met grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val. As dit bruikbare gewasse voortbring vir dié wat dit bewerk, word dit deur God geseën. Maar as dit doringstruike en dissels oplewer, is dit waardeloos en is die tyd naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur.”

Paulus gebruik drie bekende terme vir hierdie aanneming en groei: “in Hom gewortel” (uit die boerdery-wêreld), “op Hom gebou” (uit die konstruksie-wêreld) en “vas in die geloof soos julle geleer is” (uit die kerk-wêreld). Die gevolg daarvan is “dankbaarheid”.

Aanvaar Jesus Christus …

Aanvaar Hom as die fondament op wie jy elke dag jou lewe bou.

Aanvaar Jesus Christus deur Hom alleen te dien en kerklik mee te leef.

Ds Gerrit Kruger, Centurion
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css