Die Weg

 

Geloof, hoop en liefde tot ons saligheid

“En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!”- 1 Korintiërs 13:13.

1 Korintiërs 13 is 'n lofrede aan die onverganklike liefde. Dit is noodwendig so dat alles in hierdie lewe 'n einde het – “die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak. Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik, maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.” (verse 8 – 10).  Tog sal geloof, hoop en liefde bly omdat Christus self die bron daarvan is, met liefde heel bo, omdat die liefde die hoogste heerlikheid van die goddelike volmaaktheid is. Maar liefde kan hier op die aarde nie geskei word van geloof en hoop nie. Die drie vorm 'n lieflike harmonie, 'n eenheid wat mekaar aanvul. Geloof en hoop is onmisbaar vir ons saligheid, maar dit word gedra deur die liefde.

Geloof, hoop en liefde saam is die kenmerk van die ware Christen, en dit is ook die kenmerk van die ware kind van God. Dit weerspieël ons eenheid met Christus, en deur Christus met God die Vader. Deur die geloof kry ons gemeenskap met die ewig lewende Here wat vir ons die hoop gee op die ewige lewe.

Die dag sal aanbreek wanneer ons geloof en hoop nie sal verdwyn nie, maar sal oorgaan in die aanskouing van ons hemelse erfenis. Die liefde sal altyd bly bestaan tot in ewigheid, want dit is ewig soos God, en God is liefde. Die liefde van God is en bly die grootste mag in die heelal. Daarom is die liefde die basis van die heilsplan van God omdat God barmhartigheid bewys aan die mens wat in sonde verval het. Liefde was immers die rede waarom Christus, ter wille van ons saligheid, na die aarde gekom het.

Sy liefde is 'n lewegewende krag vir ons siel. Dit woon in ons, en besiel ons tot die bewaring van ons geloof en ons hoop op die ewige saligheid. So vorm geloof, hoop en liefde die nuwe mens wat bestem is vir die ewige lewe.

Ds PWA Bierman in: Bybelse Dagboek onder redaksie van ds JGM Dreyer, dr B Gemser, dr JH Greyvenstein en dr HP Wolmarans (aangepas).

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css